top of page

Vir ons kinders?


Immigrasie na Westerse lande soos Australië, New Zeeland, Kanada of Engeland kan wonderlike geleenthede bied. Sommige Jesus-volgelinge oorweeg immigrasie vir die regte redes en met gesonde gesindhede. Sommige van ons medegelowiges doen goeie en opbouende werk in ander lande en is werklik gelukkig. Hulle leef werklik hulle roeping uit.

Ons almal weet egter al teen hierdie tyd dat daar ook heelwat ongesonde redes kan wees om te immigreer. Wanneer ons dit byvoorbeeld doen uit negatiewe emosies soos blote vrees of rassisme dra dit later negatiewe vrug. Of wanneer ons eenvoudig onnadenkend vlug na beter weivelde en later agter kom die gras is toe nou nie so groen aan die ander kant soos wat vermoed is nie. Heelwat mense keer ontnugter terug uit die buiteland omdat hulle aanvanklike besluite om te immigreer impulsief en ondeurdag was.

Wat my egter soms geheel en al onkant vang is medegelowiges wat beweer: ons doen dit vir ons kinders. Op die oor af klink dit baie mooi maar ek wonder of mense nie hieroor ook effens naïef is nie, veral wanneer ons kinders se geestelike welstand ter sprake is. Bogenoemde lande bied soms (ook nie altyd nie) goeie geleenthede op materiële of ekonomiese gebied. Maar wat van die geestelike? Of gee sommige ouers nie werklik soveel om oor hulle kinders se geestelike welstand soos wat hulle voorgee nie? Het die geestelike nou ewe skielik ondergeskik geraak tot blote materiële (of ander) oorwegings?

Wat ek bedoel is dat bogenoemde lande uiters sekulêr is. Mense wat immigreer ter wille van hulle kinders besef skynbaar nie dat hulle kinders heel moontlik na ‘n sekulêre skool toe sal gaan, elke dag met ongeloof gekonfronteer gaan word, en die kans staan om oor die lang termyn hulle geloof te verloor? Hierdie vraag is werklik geen onnadenkende, donker doemprofesie nie. Heelwat Jesus-volgelinge wat vyf-en twintig jaar gelede geïmmigreer het om “Jesus se lig te laat skyn”, se kinders glo nie meer vandag nie en hulle kleinkinders is geheel en al ongelowig, agnosties of ateïsties.

Ek besef dis ‘n veralgemening en dit gebeur nie met almal nie. Teoloog Leonard Sweet wys ons egter daarop dat gelowige ouers vandag al hoe minder in staat is om hulle eie geloof aan hulle kinders oor te dra weens ons sekulariserende samelewing. Besorgde ouers kontak my byna weekliks oor die feit dat hulle hoërskoolkind nou te kenne gegee het dat hy/sy nie meer glo nie. Meeste Jesus-volgelinge is eenvoudig nog nie gerat om in ‘n sekulêre wêreld te leef nie. As dit waar is vir ouers in lande soos Suid-Afrika, is dit uitermate waar vir ouers in lande soos Australië, waar godsdiens oral blatant uitgekryt word as intellektueel onhoudbaar. Min kinders is weerstandig teen sulke omstandighede sonder uiters intensionele en vaardige ouerskap.

Wanneer jy dus immigrasie oorweeg vir jou kinders, is hierdie ‘n harde realiteit wat jy in die oë gaan moet staar. Wat help dit jou kinders wen die wêreld, maar verloor hulle siel? (Matteus 16:26)

Wanneer jy egter deur die Here geroep voel om te immigreer, doen dit met vrymoedigheid. Enige sendeling na ‘n ander land moet net nie naïef wees oor die uitdagings wat jy as ouer tegemoet gaan nie. Wees gereed om meer vir jou kind te bid as ooit tevore. Gebed sal egter nie genoeg wees nie. Wees ook bereid om jouself geestelik en verstandelik toe te rus om jou kind te kan begelei. Jy gaan meer intellektuele stof moet lees om jouself en jou kinders voor te berei op ‘n sekulêre wêreld. Hopelik sal jy dan ook soos Josua kan bly sê:

Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien (Josua 24:15), ook in Australië.


bottom of page