top of page

Het jy agtergekom dat jy nie meer die kruis se gewig op jou skouer voel nie


In Markus 8:34 vra Jesus van ons om ons eie lewe neer te lê en Hom te volg. Hy doen dit aan die hand van ’n skokkende beeld. Hy sê ons moet ons kruis optel en Hom volg. Skokkend? Wel, verseker was dit slegte nuus vir die eerste hoorders van hierdie woorde.

Ons het die kruis al so sag gemaak dat ons dit nie eens agterkom as ons nie meer die gewig hiervan op ons skouers voel nie. Anders gesê - ons dra dit nie meer nie! Of kruisdra het so lig geword soos ‘n spreekwoordelike veertjie - hier ’n klein opoffering en daar ’n stukkie omgee op ons eie terme. In die wêreld waarbinne Jesus in die eerste eeu opgetree het was kruisdra egter ondenkbaar vir enige normale mens. Om ’n kruis te dra, het net een ding beteken- jy was oppad na die plek van jou eie teregstelling, ’n baie wrede een boonop.

Kruisigings was walglik. Dit was afstootlik, grusaam en skrikwekkend. Dit het aanstoot gegee aan Romeine. Cicero (106-34vC), die bekende Romeinse wetgeleerde, het selfs enige gedagtes aan, asook gesprekke oor kruise verbied. Dit was glad nie polities-korrek om hieroor te praat in die geselskap van beskaafde Romeine nie. Hoor net hoe sterk stel hy dit in sy werk: Pro Rabirio Postump 16:

But the executioner,

the veiling of heads,

and the very word ‘cross,’

let them all be far removed

from not only the bodies

of Roman citizens

but even from their thoughts,

their eyes, and their ears.

So wreed en skokkend was kruisigings dat dit slegs vir die skuim van die aarde, soos vyande van Rome, of politieke opstandelinge en growwe misdadigers gereserveer was. Kruisigings was barbaars. Dit moes dien as ’n wrede afskrikmiddel vir voornemende kwaadstokers. Geen wonder nie dat keiser Nero se filosoof, Seneca, gesê het jy moet selfmoord pleeg as jy enigsins kan wanneer jy gevonnis was tot ’n kruisdood. En dan, uit die bloute, word hierdie skokkende beeld van ’n kruis in Markus 8:34 die nuwe beeld vir die navolging van Jesus. Nog nooit is so ‘n skok-beeld gebruik vir die navolging van ’n leermeester of een of ander lering tot op daardie tydstip nie. Maar Jesus skroom nie om dit te gebruik nie Dit is die prys wat Hy van ons vra; dit is die prys wat Hyself betaal.

Kruisdra vra in een woord of jyself bereid om alles wat jou identiteit bepaal, en wat sin gee aan jou lewe, op te ruil vir Jesus. Dit sluit letterlik alles in - jou eie ego, jou werk, jou veiligheid, jou goed beplande toekoms, jou vrese, vrae, planne, antwoorde… jy noem dit. So nie, speel jy met vuur. Jy kan letterlik jou siel verloor as jy verkeerd kies sê Jesus. Dit klink vir my na ’n gewigtige verlies, veral wanneer niemand minder nie as die Seun van God dit in Markus 8:35 sê.

So, voel jy nog die gewig van die kruis?


bottom of page