Daar’s redding
top of page

Daar’s redding


Wat ‘n teks! Ek praat van Joël 2:32. Gereeld gebruik die Nuwe Testament dit om te noem dat elkeen wat God se genade soek, dit sal vind. Nooit klop iemand tevergeefs aan God se hemelse deure nie. Nooit soek iemand na Hom sonder om Hom te vind nie. God is die Redder. Sy Seun se bloed is die kosprys. En sy Gees is die Tempelbouer wat mense splinternuut maak wat deur sy genade aangeraak is.

Die sleutel tot die brandkluis van die Here se oorstromende genade is eenvoudig. Roep God aan. Vra sy hulp. Smeek om sy genade. Klop aan sy deur. Pleit by Hom om redding. As jy dit doen, sal jy gered word. God Self waarborg dit. Hy sal oombliklik al die hemelse rekords wysig om jou naam in reddingstaal aan te kondig. Hy sal die doodsertifikaat teen jou lewe laat wysig na ‘n leef-sertifikaat. Jou naam sal verskyn in die boek van die lewe. Dit net omdat jy God aangeroep het en redding by Hom afgesmeek het.

Die Gees en redding loop hand aan hand. Die doel van sy oorvloedige uitstorting op al God se mense is sodat redding nog vinniger kan versprei in ons wêreld. God wil nog meer mense op meer effektiewe wyses bereik; vandaar dat jy Hom maar net moet vra, dan is sy genade in Christus joune ook.

Gebed

Dankie Here dat U die hoorder van gebed is. Gee dat baie mense vandag in Jesus se Naam redding by U sal afsmeek. Amen


bottom of page