Geloof is maklik, totdat dit moeilik is
top of page

Geloof is maklik, totdat dit moeilik is


Dit is maklik om te glo, totdat dinge moeilik raak. As jy langs daardie groen weivelde loop van ’n goeie werk, goeie gesondheid, voorspoed, veiligheid en ’n blink toekoms, dan kom geloof maklik. Dan word die woord “seën” gereeld gebruik om jou eie lewe mee te beskryf. Wanneer jy egter oorkant die straat begin stap, daar waar armoede, werkloosheid, siekte en misdaad wen, is dit nie meer so maklik nie; Of as jy omring word deur chaos, soos die afgelope week se xenofobiese aanvalle op buitelanders, en ’n land wat op baie plekke in wetteloosheid verval, dan raak jou geloof soms papierdun. Dan is dit maklik om jou ore uit te leen vir diegene wat graag vra: “So waar is jou God dan nou?”

As jy bid en die deur bly toe; as jy God dien maar elke dag wag daar nog nuwe moeilikheid op jou, soos wat met Asaf in Psalm 73 gebeur het - wat dan? Voel jy dan ook om saam met hierdie Psalmskrywer te sê dat jou geloof min raak. Want Asaf sê sommer padlangs vir die Here hy het amper sy geloof verloor toe hy sien hoe goed dit gaan met die goddeloses, terwyl hyself net klippe moes kou. Hoe gemaak? Wel, leer by Asaf. Hy het verder gekyk as net sy eie omstandighede. Hy het te midde van al sy lyding gesien dat God nie opgee met ons nie. Boonop kyk die Here kyk ook nie anderpad as geweldenaars alles afbrand en onskuldiges aanrand nie. Toe het Asaf weer hoop geskep.

Van hoop gepraat; hoop is nie iets nie, maar Iemand. Hoop het ’n Naam: Christus! Hoop is nie een of ander verwagting op “beter dae” nie. Hoop is die vaste wete dat Christus hier en nou by ons is… en tot in ewigheid. Hoop is nie vaag nie. Dit is konkreet. Dit is nie die hoop op iets nie, maar die vaste vertroue in Christus, maak nie saak wat gebeur nie. Kyk weg. Kyk reg. Kyk Hoop in die oë.


bottom of page