Liefde is ‘n daad
top of page

Liefde is ‘n daad


n Chinese fabel vertel van ‘n meisie, Li-Li, wat na hul troue, by haar man en skoonma gaan bly het.

Li-Li het baie gou agtergekom dat sy nie met haar skoonma oor die weg kan kom nie – hul persoonlikhede het baie verskil en haar skoonma was te krities. Om alles te kroon het tradisie bepaal dat Li-Li elke wens van haar skoonma moes gehoorsaam.

Li-Li kon haar skoonma se slegte humeur en kritiek nie langer verdra nie en het besluit om iets daaromtrent te doen. Sy het haar pa se goeie vriend, wat kruie verkoop, gaan sien en hom gevra of hy gif aan haar sou verskaf sodat sy die probleem vir eens en altyd kon oplos.

Mnr Huang het 'n rukkie nagedink en uiteindelik gesê, "Li-Li, ek sal jou help om jou probleem op te los, maar jy moet mooi na my luister en doen wat ek vir jou sê. Jy kan nie 'n vinnige werkende gif gebruik om ontslae te raak van jou skoonma nie, want dit sal agterdog wek. Daarom gee ek vir jou gif wat stadig sal opbou in haar liggaam. Berei elke dag 'n heerlike ete en gooi bietjie van hierdie kruie daarin. Net om seker te maak dat niemand agterdogtig raak nie, moet jy haar soos 'n koningin behandel."

Maande het verby gegaan, en Li-Li het getrou die kruie oor die keurig voorbereide geregte gegooi. Sy het gesorg dat sy haar humeur beteuel en haar skoonma net soos haar eie ma behandel.

Stadigaan het die hele huishouding verander. Hulle het nooit meer geargumenteer nie en haar skoonma was nou vriendeliker en makliker om mee oor die weg te kom. Die skoonma het vir almal vertel dat Li-Li die beste skoondogter is!

Li-Li het weer vir mnr Huang gaan sien. "Mnr Huang, gee asseblief vir my iets om die gif wat ek vir my skoonma gegee het, teen te werk. Sy is nou so 'n liewe mens – ek wil haar nie meer dood hê nie.”

Mnr Huang het geglimlag: "Li-Li, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek het nooit enige gif vir jou gegee nie – die kruie was slegs vitamiene! Die enigste gif was in jou gedagtes en jou houding teenoor haar, maar dit is alles nou weggespoel deur die liefde wat jy aan haar gegee het. "

Net so kan ek die “krimpvarkies” in my lewe – ‘n familielid/buurman of kollega – met liefde en geduld hanteer en vir hulle bid. Net soos Jesus vir my gedoen het: Hy het my met onvoorwaardelike liefde en genade as Sy kind aanvaar en my sonde vergewe.

Dan leef ek 1 Korintiërs 13 prakties.


bottom of page