top of page

“Professor G” help ook net so ver!


Almal hardloop deesdae heel eerste na “professor Google” toe as hulle iets wil weet. In milli-sekondes is inligting hier beskikbaar oor enigiets. Meestal is dit boonop verniet. Maar daar’s een ding waarmee “professor G” jou nie kan help nie, en dit is met wysheid. Wysheid oor hoe om al hierdie kennis reg toe te pas en hoe om sinvol te leef, is vandag skaarser as ooit. Ons wêreld smag na sulke wysheid. Ons almal is op soek na wyse mense wat op die pad van Spreuke leef. O ja, sulke wysheid kan net bemeester word aan die Here se voete. Van daar af mond dit uit in jou ganse lewe - in hoe jy dink, leef, praat, en optree. Wel, waar trek jyself op die Here se pad van wysheid? Soek jy dit elke dag met alles in jou? Spreuke 2:2-6 sê juis dat om wysheid met jou hele hart na te jaag, is om die Here Self te vind. As jy na wysheid soek soos wat jy na ’n kosbare skat soek, sal jy dit vind. God deel graag wysheid met jou wat jou lewe propvol volmaak met betekenis en vreugde. Jaag dit na met alles in jou. Dit is ’n ewigheid meer werd as “professor G” se informasie.


bottom of page