Leier Nuusbrief Augustus 2019
top of page

Leier Nuusbrief Augustus 2019


Die Groot Opdrag en die Kerk

Net voor Jesus se hemelvaart, gee Jesus aan sy dissipels die volgende opdrag: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:18 – 20).

Hierdie opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het, is ook ons (die kerk se) opdrag. God het die kerk gevestig om sy opdrag uit te voer. Die kerk het nie die vryheid wat ander organisasies het om sy eie opdrag op te stel nie. Ons het reeds ons opdrag en dit is duidelik.

Meeste kerkleiers aanvaar die opdrag. Daar is wel debat of elke gemeente vir die implementering van die volle opdrag verantwoordelik is. Ons kry dus drie tipes kerke in hierdie verband:

1. Kerke wat op die eerste helfte van die opdrag fokus

Hierdie kerke fokus op diegene wat nog nie vir God ken nie. Hulle rig hulle opleiding primêr op ongelowiges. Hulle programme en gebeure word ontwerp vir diegene wat nie in die kerk kom nie. Hulle is passievol oor mense wat nog nie vir God ken nie. Sodra die persoon tot bekering kom en in Christus begin groei, is daar min vir hulle in die kerk.

2. Kerke wat op die tweede helfte van die opdrag fokus

Hierdie kerke dink feitlik uitsluitlik aan diegene wat reeds Christene is. Hulle is passievol om gelowiges te help om te groei. Hierdie kerk voel soos ‘n Bybelkollege. Christene sal huiwer om nie-Christene na die kerk te bring. Die boodskap is moeilik verstaanbaar vir iemand wat nog nie tot geloof gekom het nie Die aktiwiteite van die kerk voel ontoeganklik vir iemand wat nog vroeg in sy geloofsreis is. Evangelisasie is iets wat uitgekontrakteer word aan evangeliste.

3. Kerk wat op die hele opdrag fokus

Hierdie kerke voel die twee dele kan nie geskei word nie. Die kerk is verantwoordelik vir die onderrig en versorging van diegene wat ons bereik. Ons opdrag is om dissipels te maak. Diegene wat ons bereik, moet uitgestuur word om ‘n impak op die wêreld te maak. Die digotomie wat ons tussen dissipelskapprogramme en evangelisasie maak, is vals. As evangelisasie nie tot dissipelskap lei nie is dit nie die evangelisasie wat Jesus in gedagte gehad het nie. Die eindresultaat van dissipelskap is nie om hulle alles te leer nie, maar om hulle te leer om alles te gehoorsaam. It is transformational, not informational. Lesslie Newbigin sê: “We have corrupted the word ‘church’ by constantly using it a non-missionary sense.”

Die kerk het ‘n opdrag en hierdie opdrag is om dissipels te maak en om hulle te leer om alles te gehoorsaam wat God hulle beveel het. Kerke moet op beide fokus.

Ongesonde afhanklikhede

Goeie leiers help hulle volgelinge om te groei. Hulle volgelinge se belange is vir hulle ‘n prioriteit. Soms gebeur dit dat ons hulle terughou deur ‘n ongesonde leier-volgeling afhanklikheid. Hoe doen leiers dit? Deur volgelinge se probleme op te los deur vir hulle antwoorde te gee in plaas daarvan om hulle insig te verbeter.

‘n Volgeling kom na jou kantoor met ‘n problem. Sy verduidelik die probleem. Terwyl sy nog besig is, weet jy wat die oplossing is, want jy het meer ondervinding. Die volgeling vra: Wat wil jy hê moet ek doen? Jy het nou twee keuses:

  1. Jy kan tyd spaar en vir haar die oplossing gee. Probleem opgelos. Probleem geskep: Volgende keer as sy weer ‘n probleem het, sal sy weer na jou te kom vir die oplossing. Jy het potensieel ‘n afhanklikheid by haar geskep.

  2. Lei haar deur ‘n proses sodat sy self die oplossing ontdek. Die probleem word opgelos sonder dat jy ‘n ongesonde afhanklikheid skep. Die benadering sal egter meer tyd vereis.

Hoe kan sy so ‘n proses implementeer?

  1. Vra vrae. Inplaas van onmiddellik die antwoord gee, vra: “Wat dink jy?”

  2. Begin werk met ‘n nuwe paradigma Om die probleem op te los, is nie die belangrikste problem nie. Om vaardighede vir probleemoplossing in jou mense te ontwikkel is die probleem. Hierdie proses sal jou mense help om hulle eie probleme op te los. Hulle sal nie meer met elke problem na jou toe kom vir ‘n oplossing nie.

  3. Besef die krag van die proses. As iemand sy eie oplossing genereer (‘n insig) vloei ‘n gamma-band oor die brein Dit staan as sinkronie bekend. As sinkronie lei tot ‘n insig in die person se brein (hy ontdek die oplossing), sal sy die oplossing met groter motivering implementeer, want die oplossing is haar eie.

Hoe reageer jy as jou mense jou nader met ‘n probleem. Probeer hierdie benadering. Die vraag is of jy hierdie benadering in alle gevalle moet volg en of daar gevalle is waar jy wel die antwoord moet gee? Ek dink daar is gevalle waar jy self die antwoord moet gee, maar dit moet die uitsondering wees.

Die gesonde kerk in 2029

Thom Rainer het na vore gekyk oor die veranderinge wat ons oor die volgende dekade in die kerk kan verwag. Die pas van verandering is baie vining en sal waarskynlik nie oor die volgende dekade afneem nie. Natuurlik kan ‘n mens nie presies wees met enige toekomsvoorspelling nie, maar Rainer voel daar is sekere neigings wat reeds duidelik is. Onthou dit gaan hier oor gesonde kerke.

  1. Doelbewuste fokus op evangelisasie en die teenwoordigheid van die evangelie. Ons is deur ‘n fase van programgedrewe evangelisasie wat min effek gehad het. Hierdie kerke gaan fokus op evangelisasie, maar dit gaan nie programgedrewe wees nie.

  2. Die gemeenskappe sal van hierdie kerke hou. Vandag het baie kerke ‘n negatiewe of geen reputasie in hulle gemeenskappe nie. Die gesonde kerke in 2029 sal die gemeenskappe soek as ‘n plek waar hulle kan dien en werk eerder as ‘n plek waar hulle dalk hulle bywoning kan verbeter. Hierdie kerke sal hulle impak in die gemeenskappe vermeerder.

  3. Die meerderheid van hierdie kerke sal multi- plek, multi- gebou en multi-dag wees. Sonder om die Bybelse waardes te kompromitteer, moet ons mense bereik daar waar hulle is. Baie mense werk vandag op Sondae. Die tradisionele 11 uur Sondagoggend was om boere te akkommodeer.

  4. Die digitale kerk sal duidelik gedefinieer wees. Vandag debatteer ons of die digitale kerk werklik kerk is. Teen 2029 sal die digitale kerk as ‘n belangrike en aanvullende komponent van die kerk gesien word.

  5. Gesonde kerke sal nie lidmate hê wat die gemeente terughou met heilige koeie en tradisies nie. Die lidmate sal verandering aanvaar eerder as om dit te beveg Hulle sal meer bekommerd wees oor die evangelie as die musiekstyl. Lidmate wat teen verandering is, sal skuif na ongesonde en sterwende kerke.

  6. Meeste byeenkomste sal bestaan uit 200 of minder bywoners. Selfs die groot kerke sal kleiner aanbiddingsdienste hê. Een van die grootste verandering sal wees eredienste op tye en dae anders as Sondae.

  7. Kerke sal meer aan netwerke as aan denominasies verbind wees. Kerke sal tussen die twee moet kies, maar sal waarskynlik meer tyd en energie aan netwerke spandeer. Denominasies sal steeds die leerstellige identiteit van die kerke wees, maar netwerke sal die funksionele identiteit wees.

  8. Kerke sal hulle fasiliteite meer innoverend gebruik. Min kerke gebruik hulle fasiliteite optimaal vandag. Die feit dat die fasiliteite nie tydens die week gebruik word nie, dui op swak rentmeesterskap. Baie kerke sal maniere uitwerk om met gemeenskapsorganisasies saam te werk om hulle fasiliteite optimaal te gebruik

  9. Baie kerke sal deel wees van ‘n groep-revolusie. Die name en funksies mag verskil maar kerke sal so veel as moontlik lidmate na groepe skuif.

  10. Gesamentlike gebed sal sentraal staan in die gesonde kerk van 2029. Lidmate en kerkleiers sal maniere uitwerk oor hoe om die bestaande gebedsbediening, wat gewoonlik swak bygewoon word, te verskuif na kragtige en Gees-gevulde gesamentlike gebed. Soos die kultuur meer teen kerke draai, moet kerke God se krag hê om te reageer.

Met die uitsondering van Bybelse waarhede moet kerke verander of sterf. Waar is jou gemeente vandag? Waar dink jy sal dit in 2029 wees?


bottom of page