My bure is oorsee. Moet ek ook emigreer?
top of page

My bure is oorsee. Moet ek ook emigreer?


Om te ry of te bly. Dit is die vraag vir vele. “Die wiele val af.” “Hier is nie ‘n toekoms vir my kinders nie.” “Misdaad wen.” Hoe gemaak? Sulke persepsies is deesdae baie mense se nuwe realiteit. Wel, jy kan doen wat jy wil. Dit is jou lewe. Maar as jy ernstig is oor die Here, dan is dit nie heeltemal so maklik nie. As jy bely Christus is Here, dan is Hy ook die Heer van jou lewe. Dan volg jy Hom.

Wel, hoe dink navolgers van Christus oor sulke ry of bly vrae?

Eerstens, God is glokaal. Hy is globaal en lokaal. Hy is internasionaal en plaaslik. Die hele wêreld is Syne. Daarom stuur Hy sy mense nog altyd op missies regoor die aarde. Abraham, Paulus en derduisende ander gelowiges moes deur die eeue God se koninkryk orals uitdra. Maar die Here is ook plaaslik. Hy is nie net elders nie. God het nie geëmigreer as moeilikheid opdaag nie. Daarom kan en moet ons Hom op enige plek op aarde dien en navolg. Daar waar ons is, daar is God se huis; daar is Hy ook tuis.

Tweedens, ons hoogste roeping as navolgers van Christus is nie ons eie veiligheid, ons voorspoed, of ons eie toekoms nie. En as dit is, is ons niks anders as al die ander bewoners van die planeet nie. Dan gaan dit steeds net oor onsself. Ons leef vir die Here. Sy missie is ons en ons huis s’n. Al ons besluite, soos of ons bly of ry, gaan oor die Here se eer. Ons is sy diensknegte. Ons leef nooit vir onsself en vir ons eie voorspoed en geluk nie, maar vir Hom en vir ander.

Derdens, dit kos ‘n kruis om Jesus te volg. Altyd. Orals. Of ons hier bly, of daar - die prys is steeds dieselfde. As ons eerlik is oor die feit dat Jesus ons Here is, dan het ons in elk geval reeds die keuse gemaak om ons lewe te verloor - nie vir onsself nie, maar vir Hom.

Ons mag vrae vra oor waar ons met ons een en enigste lewe wil leef, werk en bly. Ons mag ook dink aan ons loopbane, ons veiligheid, ons kinders... maar bo al gaan dit oor ons Heer se eer. Vir Hom leef en sterf ons. Nog voorspoed, nog onveiligheid, is ons trekpleister of ons kompas; net die Here is! Op enige plek op aarde is ons in Sy hande.

Soos wat ek aldag vir myself sê- enige plek op aarde is ‘n lekker plek, maar dan moet ek ‘n lekker mens wees. Wel, wees dit tot eer van die Heer.


bottom of page