Groei goeie gewoontes
top of page

Groei goeie gewoontes


Ons borsel ons tande elke dag op dieselfde manier. Ons ry met dieselfde roete kerktoe en werktoe. Sulke roetines gebeur outomaties. ’n Studie wat by Duke Universiteit in die VSA gedoen is, bevind sowat 40% van ons daaglikse aktiwiteite bestaan uit vaste roetines. Daar is niks verkeerd hiermee nie. Die probleem is egter al daardie slegte gewoontes wat soms in ons lewe vorm aanneem. Goor gewoontes, soos om te veel te drink of te eet; pornografie te beloer, ensovoorts, is vernietigend. Doelbewuste keuses om sulke vernietigende gewoontes in die oë te kyk en te laat staan, is al uitweg. Dit sluit professionele hulp in wanneer slegte gewoontes verslawend geraak het. Hiermee saam is nuwe geloofsgewoontes ook nodig. Die slim ouens sê dit neem ongeveer 21 dae om ’n nuwe gewoonte te omskep in ’n leefstyl. Nou ja, dan moet ons van vandag af nuwe geloofsroetines inoefen wat ons aandag op kreatiewe manier na die Here toe verskuif. Hier is ’n paar nuwe maniere om dit te doen: (a) Bid meermale deur die loop van elke dag. (b) Lees ’n paar hoofstukke uit die Bybel op ander tye as gewoonlik. (c) Doen elke dag iets goed in Jesus se naam vir iemand. Dan verskuif jou lewe Godwaarts nog lank voordat Augustusmaand verby is.


bottom of page