Moenie daardie Sekuriteitswag afdank nie
top of page

Moenie daardie Sekuriteitswag afdank nie


Ek het al ’n paar keer probeer om daardie wag voor my mond af te dank van wie Psalm 141 praat. Dit was elke slag rampspoedig. In sulke tye het ek myself behoorlik in die moeilikheid ingepraat. Dan het ek gepraat voordat ek dink. Ek het ander seergemaak met skerp woorde. Ek het in woordstryde betrokke geraak wat my nie aangaan nie. Of ek het pleinweg net te veel gepraat. Spreuke waarsku teen sulke tipe woorde. Wyse mense kies altyd hulle woorde versigtig. Hulle is spaarsamig met hulle raad, kritiek en insigte. Daarom is dit altyd die moeite werd om na hulle te luister (Spreuke 16:21-23). Hulle praat kalm en rustig (Spreuke 17:28). Hulle weet hoe om hulle tong in toom te hou; daarom hou dit hulle uit gevaar (Spreuke 21:23). Hulle is nie kwaadstokers wat die vure van woede en rusie laat aanhou brand nie. Wyse mense weier dat hulle woorde in brandhout verander (Spreuke 26:20-21). Ek wil elke dag so praat. Daarom bid ek opnuut vandag saam met Dawid in Psalm 141:3 “Here, help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om versigtig te wees met wat ek sê” (DB).


bottom of page