Help! Ek is n pieng-verslaafde!
top of page

Help! Ek is n pieng-verslaafde!


Pieng!

Ek sit nou die oggend en stiltetyd hou, foon besig om buite my bereik te laai, net om op te vlieg sodat ek kan sien wie na my soek. Natuurlik is dit niks belangrik nie – weer een of ander groepie en ‘n sommer-net opmerking.

Stom van skaamte gaan sit ek weer en tel my Bybel op. Hoeveel keer het die Here my al geleer dat Hy die belangrikste item, die belangrikste Persoon in my lewe wil wees! En hier sit ek tydens die belangrikste afspraak van my dag en ek kan nie (wil nie?) op Hom fokus nie. Ek lees Psalm 15: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?” (1983 Vertaling) en ek besef as ek my aan die vereistes van hierdie psalm meet, skiet ek hopeloos ver te kort.

Pieng! Hierdie keer mag dit een van die kinders wees wat my dalk nodig het. Die foon lê nou langs my sodat ek maklik kan kyk – nee, niemand het ‘n krisis nie, maar ek het weereens my oë afgehaal van Hom wat my so liefgehad het dat Hy sy lewe vir my afgelê het.

Ek tel weer die Bybel op en sien hoedat ek in 1 Kronieke 28:9 vermaan word om God te dien met my hele hart en met ‘n gewillige verstand. Hy het my gekies vir sy dienswerk, om gereed en toegerus te wees om my naaste te gaan liefhê, dien en opbou. Teen hierdie tyd het ek hopelik geleer om nie ‘n gesprek te minag of te onderbreek deur net gou my foon te gryp wanneer dit pieng! nie.

Dus, wanneer ek hierdie dag ingaan, wil ek sensitief wees vir my naaste en naastes wat met my wil gesels – dat ek nie na my foon gryp asof dit ‘n noodroep is wat onmiddellik moet aandag kry nie. Ek wil daarteen waak om nie die boodskap deur te gee dat wat op my foon aangaan belangriker is as die persoon wat voor my staan of teenoor my sit nie. Ek wil uitreik en waarlik kommunikeer sodat ek in die verhoudings met my medereisigers kan groei.

Pieng! Jammer, foon, jy moet maar eers ‘n bietjie wag – ek gesels nou eers met my man, vrou, kind, familielid, vriend wat tyd afstaan om fisiek in my geselskap te kan wees.


bottom of page