Wat liefde níé is nie...
top of page

Wat liefde níé is nie...


Ek luister toe vandag na die CEO van een van ons mees kreatiewe en suksesvolle besighede in Suid-Afrika. Hy het baie goeie, nuttige dinge gesê en heelwat wyshede kwytgeraak. Een van die dinge wat hy toe sê is hoe liggeraak sommige mense is en hoe dit in die pad staan van goeie verhoudings en effektiewe besigheid. Hierdie CEO is uiters goed vir sy eie mense en hanteer hulle met die uiterste respek maar hy beweer egter toe grappenderwys dat hy vir sommige mense in sy besigheid wil sê:

Toughen up, cupcake!

Alhoewel almal lekker gelag het oor sy eerlike opmerking dink ek toe aan Paulus wat gesê het (1 Kor 13:4):

Liefde is nie liggeraak nie.

Liggeraakte mense is mense wat maklik kwaad word en gedurig seerkry. Hulle is dus kleinserige mense wat graag huil, kla en kerm oor alles. Hulle neem maklik aanstoot en staan alewig op hulle regte met ‘n kinderagtige eis om op die een of ander manier hanteer te word. Hulle kan nie kritiek hanteer nie en is alewig op die verdediging. Hulle neem goedbedoelde grappe gans te ernstig en vat byna alles persoonlik op.

Maar wat maak liggeraaktheid dan nou so vreeslik verkeerd en waarom beskou Paulus dit as liefdeloos?

Liggeraaktheid is liefdeloos omdat sulke mense eintlik onvolwasse en selfsugtig optree. Hulle kommunikeer baie duidelik aan almal dat indien hulle nie behandel word volgens húlle spesifieke voorkeur of presies soos wat húlle graag wil hê nie, daar moeilikheid gaan wees. Sulke mense kommunikeer nie hulle boodskap noodwendig verbaal nie maar veral deur die emosies wat hulle toon wanneer hulle dan nou so ontsteld is: Sommige kry stilstuipe; ander raak huilerig; nog ander raak eenvoudig kwaad. Woede kry jy dikwels by liggeraakte mans omdat die samelewing hulle nie toelaat om vreeslik te huil nie. Wanneer sulke mense in leiersposisies staan dan skree hulle soms op hulle eie werknemers. Die gevolg is dat hulle die mense rondom hulle uiters senuweeagtig en onseker laat. Mense loop op eierdoppe rondom sulke mense en so hou liggeraakte mense die persone rondom hulle gevange.

Vandag se samelewing laat ons soms skuldig voel wanneer ons dinge sê wat sulke mense aanstoot gee. Aanstoot neem is mos die mode van die dag. Dis asof sommige mense dink dis ‘n morele deug om aanstoot te neem oor iets in die nuus of oor iets wat iemand vir hulle gesê het. Menige mense neem aanstoot wanneer hulle voel hulle taal is in gedrang; ander weer hulle geloof bedreig word.

Dis egter interessant dat Paulus hom rig tot hierdie mense: Hou op soos groot babas op te tree. Ons is mos groot mense. Dis net babas wat huil en kwaad word oor alles! Toughen up!

Dink net aan Jesus aan die kruis! Hy het tog sekerlik rede gehad om aanstoot te neem toe mense Hom aan die kruis spyker! Hy kom dan juis om hulle te help en kyk wat maak hulle met Hom! Hulle kruisig Hom! Hy kon maklik verval het in selfbejammering. In plaas daarvan het Hy net deur sy eie pyn heen die Vader gesmeek:

Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!

Nee, liggeraaktheid hoort nie by Jesus-volgelinge nie.

Toughen up cupcake!


bottom of page