Laat toe dat God jou verbeelding aanraak
top of page

Laat toe dat God jou verbeelding aanraak


“Jy verbeel jou!” Sulke uitdrukkings het aan verbeelding ‘n slegte naam gegee. Vir baie mense is verbeelding eintlik net dagdromery. Dit is verbeeldingsvlugte, maar dis nie iets wat nugter en gebalanseerde mense ernstig opvat nie. Fout!

Verlede week by ‘n Learning Community van ekerk in Johannesburg het Roedolf Botha gepraat oor verbeelding as ‘n deel van geloof. Dit was aangrypend. Opnuut het ek besef ons kort gesonde verbeelding, ook in ons geloofslewe. Anders word ons verbeelding ‘n privaat speelterrein wat nie deur die Here aangeraak kan word nie.

Miskien help die Engelse woord “imagination” ons om reg te dink oor verbeelding. Paulus bid juis vir ‘n nuwe “imagination,” ‘n nuwe verbeelding wat deur die Here aangeraak is in Efesiërs 1:18-20. Hoor net: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is in ons elkeen wat glo.” Paulus bid letterlik hier dat die oë van ons hart sal oopgaan. Praat van ‘n kragtige gebed, een wat selfs ons verbeelding vernuwe.

Ons verbeelding is nie ons eie privaatruimte nie. Ook is dit nie sleg, of onbelangrik nie. Dit is een van die Here se gawes aan ons. Dit onderskei ons van die res van die Here se skepping. Ons is mense wat by Hom die vermoë ontvang het om nuut te sien en groot te droom. Ons het die vermoë om die Here in geloof te “sien.”

Laat toe dat die Here jou verbeelding vernuwe. Dan gaan die hemele oop bokant jou. Dan beleef jy die Here regtig op nuwe maniere.


bottom of page