top of page
  • deur Stephan Joubert

Doener!


Party mense maak baie beloftes, maar hulle doen nooit iets hieraan nie. Ja-broers, noem jy hulle; groot- en-baie praters, maar nie groot-en-baie doeners nie. Wel, gelukkig is God nie so nie. Hy praat veel minder as wat Hy doen. Sy woorde is min, maar sy dade baie. Sy dade is sy eintlike taal. Dit wat God doen, sê wie Hy is.

Hier in Esegiël 37:14 sê God vir sy profeet dat Hy sal doen wat Hy beloof. Hy gaan nie terug op sy woord nie. Hy bak nie mooi broodjies nie. Hy sê nie maar net mooi woordjies om sy profeet en sy mense te laat beter voel vir ‘n klein rukkie nie. Inteendeel, God se woorde is gelyk aan dade. As Hy praat, dan gebeur wat Hy praat. Die Here speel nie speletjies met ons nie. Daarom kan jy Hom glo as Hy sê dat Hy sy Gees in sy menses sal laat werk.

Vat die Here vandag op sy woord. Stel jou lewe oop voor Hom sodat jy ook kan sien en beleef dat Hy God is. Dan sal jy ook ervaar dat God doen wat Hy sê. Nee, dan sal jou lewe dit vertel. Dan sal ander mense naderkom om by jou te hoor van jou God. Dan sal jou lewe magneties raak en mense naderwink na Christus toe.

Gebed

Here, maak my magneties gehoorsaam en oop vir u werke. Om Christus ontwil vra ek dit. Amen


bottom of page