Bekwaam of beskikbaar?
top of page

Bekwaam of beskikbaar?


Gaan met die krag wat jy het … Dit is Ek wat jou stuur. Ek is dan saam met jou!” Rigters 6:14b, 16.

Dis nogal ‘n kragtige antwoord wanneer ‘n mens by die Here raad soek oor ‘n groot geleentheid waarvoor jy te staan kom. Ek het egter ervaar hoedat die Heilige Gees my die nodige insig en krag gegee het om ‘n belangrike taak aan te pak sonder dat ek geweet het wat die uiteinde daarvan sou wees. Dit het later geblyk dat dit nie eintlik gegaan het oor ‘n fantastiese uiteinde of finansiële sukses nie, maar oor die werk waarvoor Hy my op hierdie reis gebruik het: om beskikbaar te wees om ander in hulle soeke na Jesus of in ‘n lewenskrisis te bemoedig.

Gelukkig het ek en Brink mentors op ons lewenspad gehad wat ons aangemoedig het om nie te wonder of ons bekwaam genoeg is om vir ander te vertel van die heerlikheid van ‘n verhouding met Jesus nie, maar om slegs beskikbaar te wees sodat die Heilige Gees ons as instrumente kan gebruik.

So het ons jare gelede sonder te veel opleiding begin om Bybelstudies te hou en ander op hulle lewenspad te bemoedig. Ons het maar net bly deponeer in ons biologiese en geestelike nageslag en kon deur die jare sien hoedat, wanneer die tyd ryp is, God resultate met groot impak gee. ‘n Bybelstudielid van Brink het sendingwerk in Rusland gaan doen en ‘n paar jaar later kom vertel van ons Russiese “kleinkinders.” Ek kon op ‘n keer vir ‘n vriendin wat nie eintlik geestelik ingestel was nie, ‘n Bybel present gee – om ‘n jaar of wat later ‘n oproep te kry: “Ek het die Bybel wat jy vir my gegee het, begin lees.” Liesbet*, vir wie ek na ‘n Christelike berader met meer kennis van haar probleem verwys het, het dekades later via sosiale media laat weet: “Dankie vir jou aandeel aan die nuwe pad waarop die Here my geplaas het!”

‘n Mens sien nie noodwendig gou resultate nie, maar dit help om te onthou dat ek dalk met ‘n baie belangrike taak begin wat uiteindelik deur iemand anders afgehandel sal word. Dit maak mos nie saak of ek erkenning daarvoor kry of nie, solank as wat die Here se werk gedoen word.

Een van die mees geloofsversterkende ervarings is, wanneer die Here my aan so iemand uit my verlede herinner en ek vir hulle bid en ‘n kort boodskappie van bemoediging stuur, dit blyk dat hulle juis een of ander krisis beleef het.

Wat ‘n avontuur is dit nie om saam met Jesus ‘n dag of week in te gaan met oop oë en ore en ‘n gewillige hart – nie noodwendig bekwaam nie, net beskikbaar.

*skuilnaam om die persoon se identiteit te beskerm


bottom of page