Terug na Jesus se werksterrein toe
top of page

Terug na Jesus se werksterrein toe


“Ekself bring my mense terug uit gevangenisskap.” Dit waarborg die Gees aan sy mense daar op Babiloniese grondgebied. In Esegiël se dag was die eerste aanhoorders van sy profesie gevangenes in ‘n vreemde land. God het dit ook geweet en besluit om in te gryp. Hy sou hulle uit die mees hooplose situasie denkbaar kom verlos en hulle terugvat na hulle eie grondgebied toe.

Jesus spesialiseer daarin om op vreemde grondgebied rond te loop om God se verlore items daar te soek. Daarom dat jy Hom gereeld sal aantref in doodslaagtes en tussen drenkelinge, moedeloses en hooploses. Jesus is daar altyd op sy beste, genadigste en ook die heel naaste! Hy kan dit nie vat dat God se verlore items op vreemde grondgebied uithang en sterf nie. Daarom dat Jesus gedurig agter vyandige linies aan’t werk is. Hy soek sy Vader se mense en vat hulle terug na sy Tuiste toe.

Terloops, jy wat ‘n volgeling van Jesus is, is geroep om saam met Hom op vreemde grond na sy verlore eiendom te soek, en hulle met liefde terug te begelei deur jou woorde, dade en gebede. Moenie in een of ander kerklike bomskuiling wegkruip, of in veilige hawens uithang nie. Dis nie waar die Here jou wil hê nie. Hy soek jou daar by sy Gees in Doodslaagte sodat jy ook kan sien hoe Hy nuwe lewe gee.

Gebed

Jesus, ek meld aan vir diens in u soekgeselskap. Amen


bottom of page