top of page
  • deur Helena Smith

Nogtans sal ek jubel


My boetie is dood toe ek 'n dogtertjie van sewe jaar oud was. Waar ons huis altyd 'n vrolike plek was, het daar nou 'n gedempte atmosfeer geheers. Mense met strak gesigte het kom simpatiseer. As kind het dit alles my baie verward laat voel. Eendag, seker so 'n week na die tragiese gebeure, het daar mense gekuier en my ma het hardop gelag. Dit was vir my die mooiste geluid en daardie lekker lag, het weer vir my hoop gegee. Ek het besef dit sal weer beter gaan.

In Spreuke 15:15 lees ons: “Vir die blymoedige mens is die hele lewe 'n fees.” Soms voel dit vir my asof ons Christene nie 'n goeie advertensie vir Christenskap is nie. Ons loop met strak gesigte en sit met suur gesigte in die kerk. Nie-gelowiges sal definitief nie 'n omkeer in hulle lewe maak as hulle hoor hoe gelowiges aan negatiewe gesprekke deelneem nie. Is ons nie veronderstel om hoop in 'n hopelose wêreld te gee nie?

Ons almal raak somtyds bedruk, dit is net normaal. Dan moet ons ons kruis met blymoedigheid dra. Dit beteken nie dat ons dan net vrolik moet wees nie. Jy moet dan net soos Habakuk kan sê, “nogtans sal ek jubel.” Jy moet in moeilike tye steeds kan sing, "It is well with my soul". Daar is altyd rede om bly te wees en te jubel. Waaroor kan ons as gelowiges nog bly voel, selfs in moeilike omstandighede? Dink net, God sal altyd vir jou lief wees en altyd by jou wees. Jesus het vir jou sondes aan die kruis gesterf en eendag sal jy saam met Hom in die hemel wees.

Om blymoedig te wees is 'n keuse. Hou jou oë op Jesus en glimlag. Hy wil hê jy moet oorvloedig lewe. Beïnvloed mense met jou positiewe lewenshouding.

Billy Graham het gesê: “Die onverdienstelikheid van genade en seën maak dat Christene die enigste mense is wat regtig iets het waaroor hulle permanent bly kan wees.”


bottom of page