top of page
Elmarie van der Westhuizen

Chroniese pyn en siekte


Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. 43 Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie.“ (Lukas 8:42,43)

In die Bybelse tyd was ‘n vrou onrein terwyl sy gemenstrueer het en die wet het bepaal dat sy ‘n baie beperkte lewe in hierdie tyd lei. Hierdie vrou het ‘n menstruele siekte gehad wat veroorsaak het dat sy nie in staat was om ‘n normale lewe te lei nie, want almal/alles waaraan sy raak, sou onrein wees. “Dood” vir die mense rondom haar, was sy al vir 12 jaar lank uitgesluit van die samelewing en van normale verhoudings. Sy het alles probeer, alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar ten spyte daarvan was sy nog nie genees nie.

Vandag is daar ook baie mense wat aan chroniese geestes-, emosionele en fisieke pyn ly en gestroop is van ‘n “normale” lewe. Aktiwiteite wat ons as vanselfsprekend aanvaar soos om jou eie inkopies te doen, kos te maak, kerk toe te gaan, verg inspanning – indien dit enigsins moontlik is. Dan praat ons nie eers van kuiers saam met vriende en familie en om verhoudings in stand te hou nie. Hierdie mense wat sukkel met pyn, het nie die emosionele of fisieke energie om hierdie “gewone” dinge te doen nie.

Ons is nogal redelik goed daarin om mekaar in krisistye by te staan en te ondersteun, maar as die behoeftes langtermyn raak weet ons nie altyd hoe om te reageer nie. Om ‘n chronies siek mens te bedien, beteken effektief om 'n myl in hul skoene te loop om so beter te verstaan wat hul daaglikse behoeftes is. Om dan te vra: “Hoe kan ons jou ondersteun, jou las ligter maak?”

Die grootste geskenk wat ek iemand met ‘n chroniese toestand kan gee is tyd – tyd om te luister, tyd om te help. En om soos Job se vriende net daar te wees sonder om te oordeel of ongevraag raad te gee. En wanneer ons wel iets sê, nie seer te maak met wat ons sê nie. As dit om gesondheid gaan, het almal 'n mening, en ons deel dit dikwels wanneer dit nie verlang word nie. Dit het veel meer waarde om te sê: “Ek is jammer jy het soveel pyn. Weet dat ek hier vir jou is.” Of: “Vertel my van jou toestand, ek wil verstaan ​​hoe ek jou kan help.”

En as ek nog steeds wonder wat om te doen kan ek net myself afvra: “Hoe sou ek graag behandel wou word?” (Matteüs 7:12)

* Met gedeeltelike erkenning aan Mary J. Yerkes Focus on the Family


bottom of page