G’n doodloopstrate vir die Gees nie!
top of page

G’n doodloopstrate vir die Gees nie!


Die Here luister na wat ons praat. Ook hoor Hy al ons moedelose praatjies, al daardie: “ek het g’n hoop meer vir die toekoms nie” soort stories. Vra maar vir Esegiël, want die Gees het vir hom daar in die laagte die jongste moedelose taal van die Israeliete deurgegee. Hy het vir sy profeet kom sê dat die Israeliete sê hulle is presies soos hierdie droeë bene in die laagte wat geen hoop meer het op nuwe lewe nie. Dis klaar met hulle. Daar’s g’n toekoms meer oor nie.

Gelukkig skrik God se Gees nie vir doodloopstrate nie. Trouens, Hy geniet doodloopstrate want Hy loop daar rond met arms vol lewe. Hy verander Cul de Sac’s graag in hoofpaaie na die ewigheid toe. Geen situasie is ooit so hooploos hier op aarde dat God die handdoek ingooi nie. Geen mens se lewe is so sleg of donker dat die Here nie kan ingryp en alles nuutmaak nie. Vra maar vir Esegiël wat die groot wonderwerk in ‘n visioen gesien het dat ‘n reuse laagte propvol dood skielik verander is in nuwe lewe! Nou ja, dis presies wat die Gees sê vir hooploses; vir diegene wat geen enkele stukkie lig meer sien nie. As jy een van hulle is, dan moet jy asseblief hier digby Esegiël kom staan en kyk wat die Gees gaan doen!

Gebed

Gees van die lewende Here, open my oë vir u magtige nuwe dade. Amen


bottom of page