Die vermiste element
top of page

Die vermiste element


Almal praat vandag van missionaliteit. Die kerk moet missionaal wees. Gelowiges moet hulle missionale roeping ontdek en uitleef. Daar is vir my egter min stories waar die missionale karakter van die lewe so goed uitgebeeld word soos in sommige van die superheld-flieks. In Avengers: End Game is daar ‘n aandoenlike toneel tussen twee van die superhelde naamlik Hawk Eye (sy voornaam is Clint) en Black Widow (genoem Natalie). Soos wat gewoonlik gebeur in hierdie soort flieks word die wêreld bedreig deur onheil. Die enigste redding vir almal bestaan daarin om ses infinity stones te vind wat die lewe en vitaliteit van die heelal weer kan herstel en mense se lewens kan red. Dit was Clint en Natalie se spesifieke missie om die soul stone (een van die infinity stones) op te spoor en te verkry. Wat hulle egter nie verwag het nie is dat die persoon wat die edelgesteente gaan kry dit slegs kan verwerf indien iemand iets prys gee wat vir hom/haar die heel waardevolste is. In meeste gevalle eis dit iemand se lewe. Beide Clint en Natalie besef toe op dieselfde oomblik dat een van hulle twee sy/haar lewe gaan moet gee sodat die ander persoon die soul stone kan verkry en daarmee redding kan bring. Hulle reaksie? Asof ‘n geweerskoot klap nael albei van hulle gelyk na die afgrond om eerste af te spring na ‘n gewisse dood sodat die ander persoon kan bly lewe en die missie suksesvol kan voortsit. Dis asof hulle nie eers gedink het daaroor nie. Elkeen van hulle probeer die ander een keer om eerste af te spring, om eerder self die offer te bring ter wille van die ander. Natalie was eindelik die een wat suksesvol daarin geslaag het om haar lewe neer te lê. Terwyl sy oor die krans hang terwyl Clint haar arm vashou dat sy nie val nie, sê sy vir Clint: Let me go. Waarop hy reageer met No! Sy kyk hom egter vredevol en sag in sy oë en uiter: It’s okay, waarna sy haarself losruk en na benede tuimel, haar eie dood tegemoet. Wat maak dat mense bereid is om sulke dinge vir die wêreld en vir mekaar te doen? Ons noem dit passie. Missionaliteit sonder passie sal ontaard in dooie en vreugdelose plig. Dit sal bloot lei na dooie godsdiens. Dis juis Jesus wat die wêreld geleer het van missionale passie. Ons praat dan van die passiespele of die passie van God wanneer ons verwys na sy sterwe aan die kruis. God het ‘n brandende, onblusbare en grenslose passie vir die wêreld. God se liefde is nie blote koue en kliniese dade nie. Sy hart brand vir ons. Hy voel diep vir die wêreld soos ‘n ouer oor sy/haar kinders voel. En... sy volgelinge deel sy passie. So is dit veronderstel om te wees. Toe Paulus probeer verduidelik waarom hy al sy mag en regte opgegee het, die wêreld met baie moeite deurkruis, bereid was om enige soort van lyding te verduur, sê hy (2 Kor 5:14): Die liefde van Christus dring ons... Paulus is bewus daarvan dat Jesus vir almal gesterf het. Dis vir hom ‘n geweldige realiteit. Hy het daardeur besef hy is geliefd. Elke mens op die aarde is geliefd. God gee om. Hy gee om met ‘n allesoorheersende, absolute en omvattende liefde. En Paulus was nooit weer dieselfde nie! Sy ganse wese, denke en lewe was geheel en al gevange geneem deur hierdie grenslose liefde van God! Dit was vir hom genoeg motivering. Niks anders nie, slegs eenvoudige, vars, verfrissende, inspirerende Goddelike Jesus-liefde! Passie kan dus beskryf word as ‘n energieke, liefdevolle dringendheid in die hart van iemand wat die lewende Jesus volg. Dis die brandstof waarop die gelowige hardloop en funksioneer. Ek verlang daarna om gelowiges en gemeenteleiers in die oë te kyk en ‘n verterende vuur vir die Here en vir ander in hulle harte te sien brand. Hoe sal die gemeente van God lyk indien mense sulke liefde vir God en vir mekaar sou hê? Hoe sal dit lyk wanneer lidmate, lede van die leierskapspan mekaar in die oë kyk en sê: Dis okay, ék sal die prys betaal. Waarop ‘n medebroer/suster dan sou kon antwoord: Nee, dis okay ék sal! Ons ganse geloof is immers gebou op Jesus wat vir ons gesê het: Dis okay, Ék sal die prys betaal. Laat dit met ons ook so wees. Die liefde van Christus dring ons...


bottom of page