top of page

Leer weer om reg te loop


God moes ook op ‘n dag leer loop. Hierdie gedagte het my soos ’n weerligstraal getref toe ek in Genesis 3 lees dat die Here, wat van alle ewigheid af daar is, sy eie tempo moes afskaal na loopspoed toe. Hy moes dit doen nadat Hy die eerste mense geskep het. Hoe anders kon Hy met hulle praat as Hy nie Self bereid was om teen loopspoed saam met hulle in die tuin te wandel nie? Aangrypend om te dink dat God ook leer loop het. Ewe aangrypend is dit dat Jesus op sy beurt selfs nog stadiger hier in ons wêreld aangekom het! Hy het as ’n weerlose kindjie sy opwagting gemaak. Is dit dan nie hoogtyd dat ons ook weer van voor af leer loop nie. Ons leef teen volspoed. Ons draf, hardloop, jaag en vlieg. Ons is so haastig met al ons vinnige karre, vliegtuie, selfone, internet en satelliete dat ons iets soos loopspoed lankal afgeleer het. Miskien is dit hoekom ons vir God so gereeld mis-leef! Want ons loop Hom mis. Briek, as dit besig is om met jou te gebeur. Leef teen die regte spoed. Leef God raak.


bottom of page