Lig en die fasette van mens-wees
top of page

Lig en die fasette van mens-wees


Wanneer ons as gesin saam vakansie hou, is daar ‘n hele paar bekwame fotograwe onder ons. Die minder ernstige fotograwe het gou gesien dat lig ‘n belangrike faktor is en het begin om spottenderwys by voorbaat te verwys na die perfekte natuurlike lig: “Die lig! Die lig!”

Die perfekte bonatuurlike lig is natuurlik Jesus wat gekom het as die lig vir die mense. Hy het kom “skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie… Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Johannes 1:5, 8, 9. 1983 Vertaling

‘n Edelgesteente is ‘n harde, deurskynende minerale kristal wat onder andere in die aardkors gevorm word onder geweldige druk of hoë hitte. So word edelgesteentes, o.a. diamante, geslyp sodat die verskillende fasette die lig optimaal kan weerkaats.

Dis dan nie vreemd dat ons almagtige God sy kinders soms deur omstandighede met geweldige druk en “hitte” laat gaan én dan nog verder aan ons slyp om die eintlike skoonheid, die Lig (Jesus) ten beste in ons lewe te kan vertoon nie.

Ek vergeet net soms dat ek nie self die lig is nie, maar net die heerlikheid van die Lig, Jesus, moet vertoon. Ek kan net van die Lig getuig, iets van sy heerlikheid wys deur die fasette van my lewe, of dit nou my huwelik is of my beroep, my ontspanning of my dienswerk by die kerk en daar buite in die wêreld. Dis hoekom die Amplified Bible, Classical Edition sê: I appeal to you therefore, brethren, and beg of you in view of [all] the mercies of God, to make a decisive dedication of your bodies [presenting all your members and faculties] as a living sacrifice, holy (devoted, consecrated) and well pleasing to God, which is your reasonable (rational, intelligent) service and spiritual worship. (Romeine 12:1)

Ek kan Hom vertrou om van my lewe ‘n kosbare juweel tot eer van sy Naam te maak, waar elke faset iets van sy karakter, sy liefde en genade ten beste vertoon.


bottom of page