top of page

Wanneer score ons?


Meeste van ons hou van sport. Selfs diegene van ons wat nie self aktief deelneem aan ‘n sport nie, hou daarvan om voor die TV se sit en kyk hoe ander atlete hulleself uit woed op ‘n gegewe sportveld.

Daar is egter een stukkie kennis waar sonder geen spel geniet kan word, of sinvol gespeel kan word nie. Dit is dat spelers en toeskouers presies moet weet wanneer punte aangeteken word. Wanneer score ons? Dis die vraag. Dis die een ding wat ons móét weet om enige spel te kan geniet. Anders sou die hele kyk-oefening vir ons sinneloos gewees het. Dan sou alles net doellose aktiwiteite gewees het, iets wat baie spelers moeg maak sonder enige sin of betekenis.

Baie mense en gemeentes leef so. Ons is almal altyd vreeslik besig. Heel dikwels werk en speel ons so hard en hardloop onsself so moeg dat ons nie stop om te vra of ons ooit punte aanteken nie. Ons hou onsself so besig met balle rond gooi en skrum dat ons dít begin verwar met die werklike druk van ‘n drie of ‘n skepskop deur die pale. Ons kan so mooi en passievol speel soos wat ons wil, maar indien iemand nie oor die doellyn duik nie, het ons nie ge-score nie. Dis so eenvoudig soos dit.

Teken Jesus-volgelinge byvoorbeeld punte aan wanneer ons die kerkbanke vol sit? Of wanneer die kerkgebou nuwe stoele kry? Wanneer lidmate van ander gemeentes oorloop na ons toe? Wanneer die gemeente nuwe gekleurde blaadjies by die deur uitdeel? Dalk ‘n moeiliker een: Score ons vir Jesus wanneer ons gereeld bid of Bybel lees? Ons moet beslis nie die fout maak om te dink dat alles wat ons elke dag vir die Here doen ewe belangrik is nie.

Dis egter nie altyd vir godsdienstige mense maklik om hierdie vraag te beantwoord nie. In Jesus se tyd het die Fariseërs ses honderd en dertien wette opgestel wat nagekom moes word. Dit het hulle steeds nie gehelp nie. Trouens, te veel reëls verwar mens net nog meer!

Daarom kom vra die mense op ‘n keer vir Jesus wat die grootste gebod is.

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

Ons score wanneer ons toeneem in ons liefde vir God en vir mense! Wanneer ons meedoënloos werk aan ons liefde vir God en selfloos vir ander begin leef, dan score ons. Dit beteken natuurlik nie dat dinge soos gebed en Bybel lees nie belangrik is nie. Inteendeel. Sonder gebed kan ons nie groei nie. Gebed is egter nie wanneer ons score nie. Die Fariseërs was uiters getroue en kranige bidders maar dit het hulle nie veel gehelp nie (Vgl Lukas 18:9-14). Nee, gebed is eerder ‘n nodige stukkie gereedskap wat ons kan help om uiteindelik te kan score. Dit help ons moontlik om ‘n skrum te wen oppad na die doellyn toe. Dieselfde geld vir Bybel lees en selfs die bou van ‘n gebou. Maar die wen van ‘n skrum mag nie verwar word met die druk van ‘n drie nie. Die wen van ‘n skrum is die regte aksie oppád na ‘n drie. Maar dit ís nie die drie nie. Netso bevorder iets soos gebed of Bybel lees die proses van transformasie binne-in ons sodat ons liefde vir God en mense uiteindelik toeneem. Maar dis nie wanneer ons score nie.

Wees lief vir God en vir mense. Dis so eenvoudig soos dit. Wel, nie heeltemal nie. Die res van die vrug van die Gees, soos vreugde, vrede, nederigheid, selfbeheersing en al die ander is ook belangrik.

Maar die grootste hiervan is die liefde!


bottom of page