Verander vir ander
top of page

Verander vir ander


Die Heilige Gees is ‘n gemeenskapsbouer. Hy stel nie net in my siel belang nie. Nee, Hy wil my in gemeenskap met die drie-enige God, maar ook met al God se ander kinders laat leef. Gemeenskap met God en ander- dis wat die Gees verlang. Daarom is sy werk in my lewe altyd gemeenskapsvormend. Daarom dryf Hy my uit my eie veilige kokon uit na ander mense en na God toe. Daarom ontmasker Hy my selfsug en stroop my van ‘n indiwidualistiese godsdiens waar dit net om myself en my eie geestelike prestasies gaan.

Toe Dawid deur die Gees gedryf is om sy sonde te laat staan en nuut in God se wingerd te begin werk, was hy dadelik terug op sy pos om ander te seën deur sy eie lewe. Dit hoor ons ‘n paar keer in die slotverse van Psalm 51. Nie eens die koning van Israel het die luukse gehad om sy godsdiens privaat, eenkant te beoefen nie. Nee, ook hy moes uitreik na die Here se mense toe. Sion, daar waar die Here se genade oor sy kinders vloei, moes nou binne Dawid se visier wees. Ook binne joune en myne. Die Gees wink ons om uit ons doppe te kruip en ‘n lewende seën te word vir almal wat vandag ons leefpad kruis. Waarvoor wag jy?

Gebed

Dankie Vader dat U my gaan gebruik tot ‘n seën vir ander. Ek is beskikbaar! Amen


bottom of page