Skep moed
top of page

Skep moed


Die afgelope vyf dae is groot dele van Kempton Park in duister gehul. ‘n Kragstasie het ontplof en baie redes word natuurlik vir die voorval gegee. Mense is ongelukkig, blokkeer paaie en soek antwoorde. Die kinders by die skool is ontsteld want hul huise se alarms werk nie en hulle kan nie ordentlik leer vir die eksamen nie. Gasbottels is uitverkoop en batterye is onverkrygbaar. Die einde is nog nie in sig nie.

Ons lees in Haggai 2:4 die Here sê vir Jesua en die burgers van die land “…skep moed…want Ek die Here is by julle” Hierdie woorde het die week al so baie vir my beteken. Net as ek so ‘n klein bietjie jammer vir myself begin voel, skep ek moed want ek weet, ten spyte van al die ongerief is die Here met ons. Dan skep ek letterlik moed en kook nog ‘n keteltjie water op my nuwe gasstofie en dink aan miljoene mense in ons land wat elke dag so leef sonder die gerief van elektrisiteit. Ek verseg om negatief te raak en saam met die doemprofete klaagliedere te sing in die koor van hooploses. Ek dink aan ‘n kosbare vriendin wat agtergekom het ek hou van heel vyekonfyt en my bederf met twee botteltjies van hierdie lieflikheid. Ek is dankbaar vir my kinders by wie ons kon gaan stort en eet. Kortom, ek skep moed. Ek skep moed vir die lewe sonder krag. Ek skep moed want ek het krag! Krag wat ek van die Here ontvang, want Sy Gees is by my.

In vers 5 van dieselfde hoofstuk sê die Here ek hoef nie bang te wees nie, want Sy Gees is met ons. Dan is ek van vooraf dankbaar vir my liewe bure wat sonkrag aan ons verskaf sodat ons yskaste kan werk en ons, ons fone en rekenaars kan laai. Ek is nie bang nie, want die Gees van die Here laat my lig sien in die donkerte. Ek is dankbaar vir die klein genadebekertjies wat aan my uitgedeel word sonder dat ek gevra het. Ek jubel vir die stilte wat neerdaal as die brullende kragopwekkers stadig maar seker gaan slaap, soos die mense tot rus kom en ek in die stilte van die vroeë aand my aangebede kan bid. Dan sing ek saam met Joe Nieman “Ek sal nie bang wees nie…” want ek kon vandag moed skep.


bottom of page