Dwaasheid is in die dorp. Wysheid ook!
top of page

Dwaasheid is in die dorp. Wysheid ook!


Wysheid bestaan van ewig af, van lank voor die skepping af (Spreuke 8:22-31). Wysheid is deur God geskep nog voordat die aarde of enigiets anders bestaan het (8:22). Toe die Here die wêreld met sorg en liefde aanmekaar gesit het, was Wysheid reeds op die toneel. Wysheid, wat in Spreuke 8 as ’n vrou voorgestel word, se grootste vreugde toe al was om al die mooi dinge te beleef wat die Here gemaak het (8:31). Wysheid is deel van wie God is. Dit is nie net ’n klompie spreuke wat mense op Facebook of Instagram plaas nie. Of iets wat sommige gelowiges nou en dan uitleef nie. Wysheid is ewig.

Dit is nie net wysheid wat in Spreuke 8-9 as ’n vrou voorgestel word nie. Dwaasheid word ook so uitgebeeld. Dwaasheid bestaan egter nie van voor die skepping af nie. Sy is tydelik. Sy is hier en nou se moeilikheid. Spreuke 9 sê Dwaasheid se woonplek is in die regte lewe, net soos dié van Wysheid. Hulle albei bly hier tussen ons. Hulle het ingetrek in die buurt. Wysheid en Dwaasheid het huise in die middel van die stad. Nee, Wysheid bly nie doer eenkant op die kerk se terrein terwyl die res van die wêreld Dwaasheid se speelpark is nie. Spreuke maak geen onderskeid tussen sulke godsdienstige spasies en ander spasies nie.

In die gewone lewe van elke dag is Wysheid en Dwaasheid aktief. Spreuke 2:9-22 sê dat as jy elke dag vir wysheid kies, dan sal jy die regte insig kry. Jy sal weet wat is reg en wat is verkeerd. Jy sal ook ervaar hoe die Here jou beskerm. Jy sal op sy pad leef. Jy sal weet wat om te sê, en wat nie. Jy sal sonde vermy en ’n lewe leef wat die hemele laat hande klap van blydskap. Jy sal die teenwoordigheid geniet van die Allerhoogste.


bottom of page