Dis so maklik!

June 11, 2019

Meeste van ons het seker al die storie in die koerante gelees van die opslae wat Nkosikho Mbele gemaak het. ‘n Vrou (Monet) het langs die hoofweg by ‘n petrolstasie gestop omdat haar brandstof klaar was. Sy besef toe dat sy nie haar kredietkaart by haar het nie. Omdat Nkosikho egter besorg was dat sy langs die hoofweg sou gaan staan in ‘n gevaarlike buurt, gooi hy toe vir haar uit sy eie sak honderd rand se petrol in om haar te kry tot by die huis. Sy reaksie op die vraag waarom hy dit gedoen het was eenvoudig: I am a believer.

 

Wat my verstom oor die verhaal is die reaksie en veral die mediadekking wat dit gekry het en die geweldige impak van stomme verbasing en hoop wat dit by mense gebring het. Is dit regtig so maklik om ‘n verskil te maak? Lyk my so. Klein prys vir Nkosi, groot impak op Monet!

 

Wat Nkosi gedoen het was om sy lewe te gebruik om ‘n mooi storie te skep. En as gevolg daarvan is die land in rep en roer! Daar is hoop! Kan jy glo, dit oor honderd rand!

 

Stories bring hoop. Jesus se storie is die fondasie vir alle stories. God is die Groot Storieverteller en Hy vertel sy beste storie deur Jesus! Met sy eie storie het Jesus die wêreldgeskiedenis verander en ons ‘n totale nuwe uitkyk gegee op die lewe! Met sy storie het Hy die dood se rug gebreek, ons sondes vergewe, nuwe lewe geskep en die mure tussen mense afgebreek. Jesus se storie, wat gestalte vind deur ons lewens, kan van vyande vriende maak, dood omskep lewe, en lig bring in donkerte.

 

Jesus se lewe op aarde is ‘n storie. My en jou lewens is stories. Jesus maak dit vir ons almal moontlik om nuwe lewe en hoop te skep met ons eie stories! Ons stories kan waarheid proklameer, goedheid ten toon stel en skoonheid skep! G’n wonder dat Nkosikho se storie so ‘n groot impak gemaak het nie. Hy het besluit om sy storie te gebruik om iemand se lewe mee te verbeter!

 

Stories het die krag om Suid-Afrika te verander! Ons vertel nie genoeg goeie stories nie, dis die probleem. Ons kies veel eerder om die negatiewe stories te vertel. Gaan jy jou storie gebruik soos wat Nkosikho syne gebruik het? Soms is dit uiters maklik om Jesus te volg. Ander kere is dit egter oorbluffend maklik, so maklik soos om mense in nood bloot raak te sien en ‘n paar rand uit te haal.

 

Skryf ‘n storie met jou lewe, een wat lewe en hoop bring! Leef die storie van Jesus in jou eie storie in! Dit mag jou dalk slegs honderd rand kos of selfs minder! Klein prys; groot impak!

 

Dis so maklik soos dit.

 

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

November 15, 2019

November 12, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: