Binnelandse Sake
top of page

Binnelandse Sake


Binnelandse sake het nie ʼn parkeerplek van hulle eie nie. Ek het dus geen manier om te skat of ek ʼn goeie tyd gekies het om te kom nie. Van my parkeerplek af bespring ywerige oornag-fotograwe my met ʼn aanbod vir ID-foto’s. Hulle kan sien waarheen ek stap en dat ek dokumente in my hand het. Die reuk van tjips en viennas hang in die lug. Die hoeveelheid mense om my raak stelselmatig meer, totdat ek uiteindelik by Binnelandse Sake uitkom. Dit is ʼn relatiewe goeie dag, want die ry strek net ʼn entjie by die voordeur uit.

Binnekant is dit ʼn gedruis van asems, selfone en ontstoke haastige mense. Die werkers agter die toonbanke is toondoof vir rumoerige, ontevrede aansoekers. Niemand jaag hulle aan nie, want geen mens kan in elk geval permanent volspoed in so ʼn sisteem werk nie.

Ek kry my nommer en my sitplek. ʼn Rekenaarskerm wys af en toon ʼn syfer terwyl ʼn elektroniese stem dit emosieloos (soos die deurwag netnou) uitroep. Dis nog baie ver van myne. Soos wat my lyf sy sit probeer kry op die harde stoel, sien ek al hoe meer mense raak. Babas nog vars uit die hospitaal. Seniors in rolstoele. Besigheidsvroue met aktetasse en noodsaaklike oorfone. In hierdie plek kom maak almal uiteindelik ʼn draai.

En bo-aan uit die dak, hier waar ek sit, hang drie bordjies langs mekaar: Births/Geboortes. Marriages/Huwelike. Deaths/Sterftes.

Die kleintjie langs my nies en begin dan huil. Ek kan aan die heesheid hoor hoe seer haar keel is.

Voor teen die toonbank hoor ʼn tannie in gelapte klere dat sy nog nie die regte dokumentasie het vir haar ID nie. Ek hoor hoe sy vir haarself iets sê oor taxi-geld en nog ʼn dag af. Die amptenaar agter die toonbank probeer simpatiek wees, maar sy is te moeg en roep die volgende ongeduldige persoon nader.

Uiteindelik is ek ook klaar en stap ek met ʼn kwitansie buitentoe. Almal van ons is hier om ʼn nommer of ʼn papier te kry wat goed van jou sê: Jy is gebore. Jy het ʼn naam. Jy is ʼn burger. Jou pa is dood. Jy was getroud. Jy is op reis. Almal hier probeer leef. Aansoekers, deurwagte en amptenare.

Maar dis nie net rubberstempels en rekenaars wat ons bestaan bevestig nie. Daar is nog ʼn stem hier teenwoordig wat sê ons het ʼn Ander een se asem in ons. Dat ons burgers van ʼn ander koninkryk is waar jy nie in ʼn ry hoef te staan vir jou naam nie. Waar jou naam geken word, omdat jy behoort. Waar jy jou identiteit gekry het sonder om aansoek te doen.

“No thanks,” glimlag ek weer vir die ID-foto-smous. Hy teug aan sy stompie en gooi dit op die vloer tussen pap Simba-skyfies. Hy knik met ʼn skewe glimlag terug.


bottom of page