Bevryding van angs en bekommernis [resensie]
top of page

Bevryding van angs en bekommernis [resensie]


As jy al van Bruce Wilkinson se kursusse bygewoon het, hetsy in persoon of deur sy gewilde videoreekse van lesings, het jy nie ʼn resensie nodig om jou te oortuig om ʼn boek met oordenkings van hom te koop nie. Hy gryp jou verbeelding aan met sy aanbiedings oor die Bybel en gebed, en vele ander onderwerpe! Net so onderhoudend skryf hy aan dié boek met sy twintig hoofstukke wat oor onderskeie onderwerpe handel en vergesel word met ʼn uitmuntende voorwoord.

Die voorwoord beskryf angs en bekommernis in die Christen se lewe – wat die effek daarvan is maar ook wat die kuur is. Wat maak jy as jy agterkom dat jy angstig is? En wat kan jy verwag sal God doen wanneer jy doen wat Hy van jou vra in tye van angstigheid? ʼn Laaste deel handel hoe om jou weerstandigheid teenoor angstigheid te verbeter. Dit hou verband daarmee dat ʼn mens waak oor die gedagtes wat jy in jou kop toelaat. Want beskryf Paulus nie wat die maatstaf is wat Christene gebruik oor waaroor hulle dink nie? Vul julle gedagtes met wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.

Die res van die boek is gebaseer op navorsing wat gevind het watter dinge in die lewe die meeste mense angstig en bekommerd maak. Dit handel oor sake soos: onbekende gesondheidsprobleme, finansiële probleme, emosionele gesondheid, werksekerheid, persoonlike veiligheid, ouderdom, die toekoms, verhoudings, wat ons eet, eiewaarde, tye van moegheid, eensaamheid, ʼn gebrek aan ʼn lewensdoel, ekonomiese insinking van die land en ekonomie, jou gesin, ʼn reis en geestelike oorlogvoering.

Elke gesprek is substansieel voor dit enkele Skrifgedeeltes bied wat verder lig op die onderwerp gee. En die hoofstuk sluit dat met ʼn gebed af wat verwoord wat in die hoofstuk gesê is en waaroor die Skrifgedeeltes handel.

In styl wat tipies aan Bruce is, is dit op die man af, duidelik en Skrifgefundeer wat hy oor die onderwerpe leer. Jy is veilig met wat hy hier bespreek – sy teologie is geskik om selfs vir jong gelowiges te gee om te lees.

Hier het jy die uitnodiging om God toe te laat om jou vry te maak van vrees. Dit leer jou om jou denke te laat rig deur die Woord en om deur gebed jou rustigheid en vrede in die Here te vind.


bottom of page