Laat U Koninkryk Kom [resensie]
top of page

Laat U Koninkryk Kom [resensie]


Elza Meyer is bekend by talle Suid-Afrikaners, nie slegs vir die Ester Konferensies waar sy landswyd bedien het nie maar ook as skrywer van talle gewilde en nuttige boeke. Sy is ook betrokke by die Turn2God Bedieninge en kan gereeld op radio en televisie gehoor word.

In dié boek gesels sy oor die sentrale tema waaroor Jesus gepreek en geleer het, die koninkryk van God. Deur die eeue het die kerk al baie hieroor gepraat en geskryf, en Elza se werk reflekteer eeue se besinning hieroor.

Sy vra: wat bedoel ons wanneer ons in die Ons Vader-gebed vra dat die koninkryk van God kom? Wat gebeur wanneer die koninkryk in ons lewe en wêreld aanbreek?

Sy bespreek ses temas: dat God se koninkryk in ons wêreld bestaan, sodat ons wêreld sy wêreld word. Dat die Koning van die koninkryk ons identiteit bepaal wanneer ons in sy koninkryk leef. Dat die Heilige Gees koninkryksmense se geaardheid belyn met hulle koninkryksidentiteit. Dat dit nie bloot om werke gaan nie maar om dieper oorgawe. Dat medewerkers in sy koninkryk ook God se werke doen. En dat volgelinge van die Koning dissipels word wat effektief in hulle konteks tot eer van God leef.

Die boek is só geskryf dat dit maklik verstaanbaar is; dit beskryf groot waarhede op eenvoudige wyse. Wat ek veral nuttig vind, is dat elke hoofstuk afsluit met ʼn opsomming van die waarhede wat in die stuk bespreek is.

Die koninkryk handel oor die Koning wat oor mense se lewens regeer. Deelgenote aan die koninkryk is konings en priesters saam met die Koning, wat die grondwet van die heerskappy van hulle Koning eer en prakties toepas. As koninkryksmense leer hulle om soos die Koning te praat, te dink en op te tree. Hulle is rabbi’s wat hulle omgewing rig en lei om God se wil te onderskei.

Hier het jy ʼn boek wat nie slegs inligting oor ʼn belangrike Bybelse onderwerp verskaf nie maar jou uitdaag om jou lewe te wy aan die Koning wat sy lewe vir jou gegee het. ʼn Nuttige boek as belegging in jou geestelike lewe!


bottom of page