Die impak van kuier om ‘n etenstafel
top of page

Die impak van kuier om ‘n etenstafel


Na aanleiding van die afgelope Paasnaweek is ek opnuut onder die indruk van die intimiteit tussen Jesus en sy dissipels tydens daardie Paasmaal wat die eerste Nagmaal geword het. Twee gespreksonderwerpe is deur Lukas aangeteken: die onsinnige redekawel oor wie die belangrikste is, en Jesus wat ‘n klip in die bos gooi met die aankondiging dat Hy verraai gaan word. Albei hierdie onderwerpe het die dissipels dieper laat dink oor hulle verhouding met Hom.

So kan elke maaltyd sinvol wees. Met die gesprekke wat ons as gesin aan tafel het, kan ons vir ons kinders nie net die kuns van gesprekvoering modelleer nie, maar kan ons ook oor diep dinge gesels.

Geïnspireer deur Levi wat vir Jesus (waarskynlik met ‘n paar dissipels) saam met sy ongeredde kollegas en kennisse vir ‘n maaltyd genooi het, het ons eenkeer ‘n paar gaste vir ‘n ete genooi – een paar wat toegewyde Christene is (Eric en Ilse*), en een paar (Frik en Janet*) wat nie regtig die Here geken het nie. Ons het lekker geëet, lekker gekuier en ook geleentheid gehad om te vertel van wonderlike dinge wat die Here in ons lewens gedoen het. Teen die einde van die aand het Frik gou eers ‘n draai in die toilet gaan maak en daar uitgekom met ‘n klein boekie wat vertel hoe om Jesus as Verlosser aan te neem: “Mag ek hierdie saamneem huis toe?” Hierdie man het die boekie met sy gesin en lede van sy familie gaan deel en het later ‘n kragtige getuie geword wat baie ander beïnvloed het om Jesus aan te neem.

Met ‘n volgende geleentheid het ek egter ‘n duur les geleer: ek het so hard gewerk aan die voorbereiding van fênsie kos vir ons fênsie gaste dat ek nie regtig vir die kuier gebid het nie. Die gevolg was dat een van die gaste byna die seën van die aand gekanselleer het met haar growwe taalgebruik.

‘n Mens kan hierdie seën ook na iemand se tuiste toe neem. ‘n Groep vriendinne het Vera se negentigste verjaardag met ‘n afternoon tea in haar aftree-oord woonstelletjie gaan vier - deur Nagmaal te bedien met vrugtesap en komkommer-toebroodjies! Vera was geweldig aangedaan deur hierdie liefdesbetuiging en ons almal was geseën daardeur.

Wanneer Jesus deel van ‘n maaltyd is (hoe eenvoudig of indrukwekkend dit ookal is) het dit impak in ewigheidsterme.

(* skuilname)


bottom of page