Hoe hanteer jy die hartseer, woedende wêreld?
top of page

Hoe hanteer jy die hartseer, woedende wêreld?


Ek lees onlangs dat die wêreld die woedendste is wat dit nog ooit was. As 'n mens na statistieke kyk, word hierdie stelling bevestig. Volgens Statistiek SA het een uit elke vrou bo 18 al deurgeloop onder fisieke geweld. In 2017 het 42 173 Amerikaners gesterf aan selfdood. In SA word gesinne soms uitgewis deur plaasmoorde. Padwoede is aan die orde van die dag. Dan was dit ook nou verkiesingstyd en sommige mense was angstig oor die uitslag van die verkiesing.

As iemand my sou vra hoe ek die hartseer, woedende wêreld hanteer, sou ek se deur in verbondenheid met die Here te leef en my hoop op Hom te vestig. In Psalm 63:9 lees ons: "Ek is aan U verbind, U regterhand hou my staande. As 'n mens leef met die wete dat God jou staande hou en dat Hy elke oomblik van die dag by jou is, kan jy die wêreld aandurf.

Hoe lyk iemand wat in verbondenheid met die Here lewe, se lewe?

  • In 'n woedende wêreld lewe jy God se vergifnis uit. Jy is 'n kanaal wat vergifnis uitdeel, ook aan mense wat jou leed aangedoen het.

  • In 'n wêreld wat smag na liefde, deel jy liefde uit. Bob Goff skryf in sy boek "Everybody always" dat 'n mens vir almal, altyd moet lief wees. Jy moet dus vir elkeen wat jou pad kruis, Jesusliefde wys, selfs onvriendelike mense, wat menslik gesproke, nie liefde verdien nie.

  • Jou lewe sal wys dat jy alles aan Jesus oorgegee het, selfs jou tyd en jou geld. Aardse goed maak nie meer vir jou saak nie.

In Romeine 8:1 lees ons die wonderlike belofte: "Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem." In 'n hartseer, woedende wêreld, kan jy as Christen weet, dat jou sonde weggeneem is deur Jesus se kruisdood en dat jy eendag saam met Hom in die hemel sal wees. Terwyl jy hierdie aarde, wat soms chaoties voel, bewandel, kan jy weet dat die Heilige Gees, jou Helper, by jou is.


bottom of page