Minder polities korrek en meer Christus-getrou
top of page

Minder polities korrek en meer Christus-getrou


Om polities korrek te wees impliseer jy probeer om nooit vir enigiemand aanstoot te gee nie. Jy staan stilweg uit die pad van elkeen wat seergemaak kan voel oor enigiets onder die son - kos, kleredrag, ouderdom, seksualiteit, godsdiens, politiek, onderwys, sport, klimaatstoestande, diereregte… Jy moet amper opinieloos wees, ten minste binne die kringe van die opinieloses! Anders gee dit ook weer aanstoot. Of so iets. Wel, dit is verseker waar dat Christene nie onnodiglik moet aanstoot gee nie. 1 Petrus 2:12 sê ons moet stylvol leef en onsself goed gedra tussen nie-gelowiges. Efesiërs 5:15-17 roep ons ook op om versigtig te leef... en verstandig. Ook moet ons nederig, sagmoedig en goedgesind wees teenoor almal (Kolossense 3:12). Ons word opgeroep om die liefde van die Here onder alle omstandighede tussen alle mense uit te leef. Ons kan nie kies wanneer ons dit wil doen nie, ons leef die liefde.

Aan die ander kant het ons ook ’n getuienis om te lewer omdat ons Jesus as Here navolg. Ons mag ons nie skaam vir Hom, of vir sy Woord nie. Dit het bepaalde implikasies. Paulus weet met name die kruis is ’n aanstoot (of ’n skandalon in Grieks, aldus 1 Korintiërs 1:18-25). Vir baie mense is hierdie boodskap dwaasheid en onsinnigheid. Die boodskap van ’n gekruisigde en opgestane Here is nie orals die smaak van die week nie. Daarom gaan navolgers van Christus nie aldag en orals polities korrek wees nie. Wel, dalk is dit hoogtyd dat party Christene minder polities-korrek moet wees en meer Christus-getrou. Wat van jou?


bottom of page