Leier Nuusbrief — Mei 2019
top of page

Leier Nuusbrief — Mei 2019


Hoekom kom mense terug kerk toe?

Rick Warren sê dat gemeentes nie konstant groei nie. Groei in getalle gebeur veral na groot gebeurtenisse soos Paasfees en Kersfees. Hoekom sal mense na jou kerk terug wil kom na Paasfees?

  1. Jy het vir hulle gewys dat jy hulle liefhet. Mense kom terug as hulle weet dat jy vir hulle omgee. In vandag se kultuur word mense toenemend skepties oor die Christendom. Hulle luister nie meer na die Goeie Nuus soos in die verlede nie. Hoe sny jy deur hierdie negatiwiteit met mense wat ‘n erediens in die kerk bywoon? Wys vir hulle dat jy omgee. Ons verdien die reg om die Goeie Nuus te deel deur self die Goeie Nuus te wees. Groet hulle. Onthou soveel name as moontlik; moenie van aanraking vergeet nie. Vir baie mense is die enigste liefdevolle aanraking wat hulle daardie week sal kry die een wat hulle by die kerk gekry het.

  2. Kollekteer kontak-inligting. Gebruik hierdie inligting om op te volg. Ontwikkel ‘n manier om na die erediens hierdie kontak-inligting bymekaar te maak.

  3. Jy reik uit na hulle nadat hulle ‘n erediens bygewoon het. Gebruik die inligting wat jy het en skryf aan elkeen ‘n briefie. Hou dit warm en persoonlik. Gebruik die brief om mense met die volgende week se preek, kleingroepe, bedienings, ens te verbind.

  4. Kry hulle in ‘n kleingroep of betrokke by ‘n bediening. Mense kom terug as hulle ‘n vriend gemaak het of ‘n verantwoordelikheid gekry het. Dit is moeilik om tuis te voel in ‘n groep groter as 20 mense. Daarom moet jy gaste so gou as moontlik by ‘n kleingroep betrokke kry. Daarom moet jy ‘n lys beskikbaar hê van kleingroepe wat nuwe lede soek. Sluit inligting oor kleingroepe in jou brief aan hulle in. Bedienings help ook mense om in te skakel by ‘n gemeente. Mense het nie baie ondervinding nodig om afkondigings uit te deel of aan iemand ‘n kopie koffie aan te bied nie. Jy moet ‘n lys beskikbaar hê vir geleenthede vir vrywilligers – geleenthede wat enigeen kan doen.

  5. Jy het ‘n sisteem in plek om mense in die lewe van die gemeente te assimileer. Jy moet ‘n sisteem hê om mense meer en meer by die gemeente betrokke te kry. Jy mag nie mense tydens hulle geestelike reis verloor nie. Om mense by die voordeur in te kry is slegs die eerste stap. Nou moet jy hulle kry om terug te kom en in te skakel.​

Verwerping

Pyn is ‘n gegewe in die lewe. As ons van pyn praat, dink ons aan fisiese pyn, maar sosiale pyn is net so werklik en selfs seerder. Neurowetenskaplikes het uitgevind dat ons breine sosiale pyn, soos verwerping, op dieselfde plek voel waar ons fisiese pyn voel. Om verwerp te word maak seer net soos fisiese pyn. Ons gebruik woorde om sosiale pyn te beskryf wat dieselfde is as woorde wat ons vir fisiese pyn gebruik: sy het my hart gebreek; sy het my gevoelens seergemaak

Wat kan ons as leiers doen om te verhoed dat ons onbewustelik ander seermaak:

1. Help jou gemeente om meer bewus te wees van diegene wat Sondae alleen is.

Voor die erediens begin sien jy diegene wat alleen sit. Na die erediens sien jy diegene wat alleen staan. Vra die lidmate om op die uitkyk te wees vir hierdie mense. As hulle so iemand sien, moedig hulle aan hulle bekend stel en laat hulle welkom voel.

2. Oppas vir gesigsuitdrukkings.

Oppas, ons gesigsuitdrukkings kommunikeer dikwels meer as ons woorde. Studies wys dat as ons na gesigsuitdrukkings wat ontevrede is, kyk, kan dit pyn veroorsaak. Moenie vals wees nie, maar bring jou aangename en vriendelike gesig kerk toe. Vra iemand om jou interaksie met ander dop te hou en vir jou terugvoer te gee oor jou gesigsuitdrukking.

3. Onderrig jou gemeente oor die brein.

Help hulle om die brein se impak op verhoudings, geestelike groei en leierskap te verstaan.

God se heerlikheid

Watter soort God verkondig Jesaja in Jesaja 42:18 tot 43:21? Hoe moet God wees as Hy beloof om te herstel en te hernuwe ten spyte van die mislukking van sy mense. Watter soort God is ons Verbondsgod? Wie is hierdie God wat Jesaja soos volg beskryf: Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie (Jesaja 43:11). Hoe moet Hy wees as Hy ten spyte van die mislukking van sy kinders belowe om hulle te herstel en te vernuwe? In ‘n reeks stellings aan die begin van Jesaja 43 kry ons ‘n sesvoudige beskrywing van God se heerlikheid.

1. God is die Skepper.

Jesaja sê dat God Israel geskep en gevorm het: Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel (43:1). Geskep verwys gewoonlik na die skepping van iets nuuts. Dit beteken nie noodwendig dat dit uit niks geskep is nie. In Genesis 2:7 lees ons dat die Here God die mens gevorm het uit stof van die aarde. Gevorm impliseer die gebruik van bestaande materiaal soos ‘n pottebakker dit doen.

Soos Adam is Israel die produk van God se soewereine bepaling en vaardigheid. God se mense is nie toevallig nie. Soos Adam is Israel gehoorsaamheid, wederkerige liefde en trou aan God verskuldig, Israel het nie haarself geskep nie. Vir haar bestaan en verlossing is sy aan God verskuldig.

Idees het gevolge. Die verwarring en soms totale verlies van die leer van die skepping in ons tyd, beïnvloed die manier waarop ons die natuur en ons funksie as mense verstaan. Die skepping herinner ons daaraan dat ons verhouding met God nie dié van gelykes is nie. Ons is ons bestaan aan Hom verskuldig en selfs as sy aangenome kinders is ons steeds net skepsels. Ons is dus ondergeskik aan Hom. Ons bestaan om die Here te dien; ons is verlos om die Here te dien.

2. God is ons Verlosser.

Moenie bang wees nie. Ek verlos jou (43:1). Dit sluit in al die wetlike en gesinsverpligtings wat so ‘n verhouding vereis. Ons skuld word syne. Alles het Hy ten volle betaal wat ons, of Israel, nie kon betaal nie. Hy het wat die wet van ons verwag het, vervul. God sal enigiets betaal om sy kinder los te koop – selfs sy enigste Seun.

3. God is ons Beskermer.

As Hy ons gekoop het, is Hy ons eienaar: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne (43:1). Ons is op voornaam terme want Hy het ons op ons naam geroep. God ken jou naam. Sy liefde verseker dat ons nie alleen is nie; As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie ... want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder (43:2 – 3). Hy beskerm sy mense deur hulle beproewings Hy spaar sy mense nie noodwendig van die beproewings nie, maar Hy behou hulle deur hulle beproewings. Ons is syne.

4. God is liefdevol.

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet (43:4). Ons is kosbaar vir Hom; Hy het ons lief; Hy het ons by ons naam geroep. Want Ek is die Here jou God (43:3). God se persoonlike Naam is YHWH of Yahweh. Ons vertaal dit gewoonlik met HERE. God het Hom aan Moses geopenbaar: Ek is wat Ek is (Eksodus 3:14). Dit word later tot Ek is verkort. In hierdie konteks word sy Naam nou verbind met sy beloftes en die verbond. In wese sê God: “Ek is die God wat ‘n verbond met julle vaders gemaak het, die God van Abraham, Isak en Jakob, ek sal my verbond met julle onderhou. Die HERE, die god van julle vaders het My na julle gestuur. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat, en Ek sal julle leer wat om te doen (43:15). Ons leef in ‘n geslag waar respek belangrik is. Niks is belangriker vir respek as die wete dat iemand ons liefhet nie – veral dat God ons liefhet – ‘n liefde wat ons nooit sal los nie.

5. God maak ons bymekaar en red ons.

Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af. Ek sê vir die noorde: Gee! Vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af (43:5 – 6). Dit lyk asof die profeet hier in die toekoms kyk. Niemand sal verlore gaan as God sy mense bymekaar maak nie. Hy sal ons kry, want Hy ken elkeen van ons by ons naam. Niemand bly agter nie Soos ‘n herder wat deur wind en storms sy verlore skaap soek sal Hy die nege en negentig in die veld laat staan en gaan agter die een an wat weg is, totdat hy hom kry (Lukas 15:4).

6. God is heerlik en vasbeslote om al die heerlikheid vir Homself te kry.

Dit is waarvoor Hy ons gemaak het. Hierna volg ‘n hofdrama waar Jesaja Israel in ‘n ondersoek lei. Getuies word geroep en beskuldigings word gemaak. Hulle blinde oë en dowe ore is getuienis dat hulle nie hulle bestaansdoel – om God te verheerlik – verstaan het nie. Hulle betrokkenheid by afgode is bewys van hulle kortsigtigheid. Voor My was daar geen god nie, en na My al daar ook nie een wees nie, Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ek het die redding aangekondig. Ek het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God (43:10 – 12). Hierdie “vreemde gode” is die mens se grootste misdaad. Hulle kan nie Israel uit hulle beproewings verlos nie, Jahweh alleen is God en net Hy kan verlos.

Die plek van die kerk onder die armes

Julle het tog altyd armes by julle (Markus 14:7). As ons die probleem van armoede oorweeg, is daar twee belangrike aspekte om te oorweeg.

1. Die lot van die armes.

Armoede is ‘n ingewikkelde probleem. Baie van ons kom met eenvoudige oplossings na vore: “hulle moet net harder werk.” Kundiges sê vir ons dat mense wat materieel arm is, vasgevang is in veelvuldige faktore wat met mekaar verbind is: onvoldoende bates, kwesbaarheid, magteloosheid, isolasie en fisiese swakheid. Hulle vang armes soos ‘n vlieg in ‘n spinnekop se web.

As ek finansieel swaarkry kan dit my sin dat ek betekenisvolle opsies het, vernietig – ek kan voel ek het min vryheid. Om dit te vererger het arm mense dikwels nie ‘n geskiedenis van sukses nie. Baie van die ryk mense in die wêreld was voorspoedig so lank as wat hulle kan onthou. Dit lei tot ‘n positiewe uitkyk op die wêreld. ‘n Gebrek aan suksesvolle ondervindings in die verlede stomp jou wêreldsiening af. Ryk mense neig om op hulle vroeë opvoedkundige prestasies te bou; mense wat min of geen opvoeding gehad het nie, kort die inligting en ondervinding om te slaag. Hierdie gevoel dat hulle vasgevang is en altyd misluk, kan hulle versmoor. Hulle kom dikwels voor vrees en hulpeloosheid te staan – iets wat ryk mense selde ondervind.

Baie arm mens ken nie vir Christus nie. Hy kan hoop bring te midde van erge armoede. Armoede gaan nie net oor die armes nie.

2. Die gesindheid van die rykes.

Meeste rykes, met belangrike uitsonderings, is onkundig en traak-my-nie-agtig en onregverdig teenoor die armes. Maar julle behandel die arm man met minagting (Jakobus 2:6). Dikwels materialiseer ons goeie bedoelings nie. Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê; “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? (Jakobus 2:14 – 16). Baie van ons gee voorkeur aan die rykes: Moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.

Dit is nie ‘n skande om ryk te wees nie, maar met voorregte gaan verantwoordelikhede gepaard. Die gemiddelde Amerikaner moet net elf minute per dag te werk om meer as 40% van die res van die wêreld se bevolking te verdien. Hoe moet Christene reageer op die armoede om ons in die wêreld en in ons eie land?

3. Die plek van die kerk.

In die Skrif kry ons drie eenvoudige werklikhede wat ons kan help om beter met diegene in nood te deel.

a. Om vir die armes te sorg is nie-onderhandelbaar nie.

Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliete wat in nood is en wat arm is (Deuteronomium 15:11). Die broer is nie noodwendig ‘n gelowige nie, maar ‘n lid van die Israelse gemeenskap. Die probleem van armoede is ons probleem. Toe Jesus in Betanië gesalf is, sê Hy: “Julle het tog altyd armes by julle” (Markus 14:7). Dit was reg vir die vrou om kosbare nardusolie op Jesus te “vermors”, maar gewoonlik het die armes ‘n regmatige aanspraak op ons hulpbronne. As pilaar van sy apostoliese bediening sê Paulus: al wat hulle gevra het, is dat ons nie armes onder hulle moet vergeet nie (Galasiërs 2:10). Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees (1 Johannes 3:17). Jesus het rondgegaan en goed aan die armes en verdruktes gedoen. Die kerk moet dieselfde doen.

b. Gelowiges het die mag om die armes lief te hê.

Die Bybel leer vir ons hoe om op armoede te reageer. Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus, hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word (2 Korintiërs 8:9). Voor genade het ons ons bates vermors, ons was onkundig en het die toekoms gevrees. Christus het die vloek van armoede gekanselleer. En Hy het die gebrokenheid van die sondeval omgekeer. Christus het ons ryk gemaak deur aan ons ‘n onverdiende erfenis te gee, Gelowiges het die mag om vir die armes te sorg, want hulle is van hulle oorheersende selfliefde genees. Lewende geloof is nooit net ‘n gesindheid nie, maar word deur optrede bemagtig en deur genade gekenmerk.

c. Versorging van die armes vereis ‘n aksieplan.

Hier is twee belangrike dele van die aksieplan. Eerstens, bid vir die armes. Bid dat God die armes van wanhoop sal bewaar, bid dat die mense in jou gebied aangetrek sal word as hulle die evangelie hoor en in die liefdevolle geloofsfamilie verwelkom sal word.

Gehoorsaam Jesus se opdrag om arm mense te ken. Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes (Lukas 14:13) In Jesus se gelykenis van die groot maaltyd lees ons: Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen (Lukas 14:21). Deur persoonlike verhoudings met armes, sal jy hoor van ander en jou hart sal na hulle uitgaan: het ek nie trane gestort vir dié wat swaarkry nie, het ek nie meegevoel betoon met die armes nie (Job 30:25). Hulle lewens sal jou daaraan herinner dat jy nie arm is nie. Die rede waarom dit so is, het meer met God se voorsienigheid as met jou harde werk te doen.

Die armes is steeds met ons. God se verwagting is dat ons hulle sal bystaan. So is God se belofte om te sorg vir diegene wat sorg vir die armes: gee vryelik aan jou broer wat arm is, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak (Deuteronomium 15:1). As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal dit wat vir jou nag is, word soos die helder middag (Jesaja 58:10).


bottom of page