Bybelbeloftes vir elke man [resensie]
top of page

Bybelbeloftes vir elke man [resensie]


Mans wat as dissipels van Jesus Christus leef, benodig in die loop van elke dag om van Hom te hoor. Ons beleef soveel uitdagings, en dis uniek vir elkeen van ons, dat ons as individue nodig het om te hoor wat Hy van ons situasie dink, en hoe ons daarop behoort te reageer. Dit is net nie goed genoeg om vroegoggend en vanaand weer stiltetyd te hou nie. Jy oorleef slegs geestelik indien jy ankerpunte in die dag inbou waar jy jou gedagte op die Here fokus, na sy stem luister en kers by Hom opsteek oor wat in jou lewe gebeur. En wanneer Hy dan met jou praat, kry jy moed en rigting vir wat wag.

In dié boekie het jy honderde relevante teksverse wat die Here se stem kan word. Die boekie is in temas of onderwerpe ingedeel wat jou kan help om jou belewenis in verband te bring met wat die Woord daaroor sê. So is daar: Moet oor niks bekommerd wees nie. Vind jou rus in die Here. Volhard in beproewings. Meer as genoeg. Wag geduldig. Wees nederig. En vele meer.

Elke afdeling begin met ʼn kort woord van bemoediging met ʼn paar bladsye se relevante teksverse. Wat só aangebied word dat dit die hart en oog aanspreek. Want die boek is visueel aantreklik, met talle teksverse wat uitgelig en beklemtoon word.

Die boek is ʼn ideale geskenk om vir ʼn man te gee. En wie het nog nie met die hande in die hare gesit en wonder wat om vir ʼn man te gee wat nie nog kouse of sakdoeke nodig het nie? Dis ʼn ideale geskenk maar kan ook ewe nuttig wees indien ʼn man dit vir jouself koop. Die koste is heelwat minder as ʼn Ferrari of Masserati maar die waarde gaan veel meer wees!


bottom of page