Geestelike oefening met Bybelvers Memorisering
top of page

Geestelike oefening met Bybelvers Memorisering


"Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek." 2 Tim 3:16

Wanneer ek die Bybel gereeld (verkieslik daagliks) bestudeer sal ek skrifbeginsels raak lees en ontdek! Indien ek dan hierdie beginsels begin memoriseer sal ek toenemend vind dat dit groot waarde inhou vir my geestelike groei en my intieme verhouding met die Here!

Omdat die verse wat die Here vir my in krisistye/keerpunt-tye gee in my gedagtes vassteek, memoriseer ek hulle juis makliker. Dis ook lewensbelangrik dat ek die verse rondom veral redding en sekerheid memoriseer vir die tye wanneer ek self twyfel, of met iemand anders wil deel wat Jesus as Verlosser wil aanneem (bv. Johannes 3:16, 1 Johannes 5:9-13) en God se liefdevolle sorg (bv. Fillipense 4:19)

Dit werk goed om toepaslike Bybelverse neer te skryf op ‘n kaartjie of ‘Post-it’ notatjie en dit te plaas waar ek dit dikwels sal sien: op my rekenaarskerm, my stuurwiel of teen die badkamerspieël.

‘n Vriend wat met die trein werk toe ry vind dat dit ‘n ideale tyd is om verse te memoriseer. ‘n Mens kan selfs ‘n paar sleutelverse op jou foon laai en dit lees wanneer jy ‘n blaaskans het of daarna luister terwyl jy jou 10 kilometer vir die dag draf.

Daar is verskeie apps vir jou foon of "tablet" om te help om die Bybel te memoriseer, bv. The Bible Memory App. Daar is ook verskeie webblaaie wat elke dag 'n vers na jou foon of e-pos adres stuur o.a www.bybel.co.za . Die You Version se Bible App (www.youversion.com/the-bible-app/) stuur ook elke dag 'n vers uit en gee die keuse van verskeie Afrikaanse vertalings van die Bybel. www.memverse.com is 'n gratis webwerf wat ‘n mens help om jou vordering te monitor.

Dis natuurlik belangrik om nie net die verse soos ‘n papegaai te leer nie, maar om dit deel van jou denke te maak (Joshua 1:8 praat van die Woord dag en nag te oordink) en die wonder en grootsheid daarvan te ervaar.

Dan sal ek en jy ook soos Jeremia kan sê: "Your words were found, and I ate them, and your words became to me a joy and the delight of my heart, for I am called by your Name, O Lord, God of hosts."


bottom of page