Die groter prentjie
top of page

Die groter prentjie


Die Nuwe Testament bied ’n omvattende blik op die Heilige Gees. Hier word Hy deurgaans as ’n Persoon met ’n eie identiteit en ‘n eie werksterrein uitgebeeld. Hy vervul byvoorbeeld mense soos Elisabet (Lukas 1:41), Sagaria (Lukas 1:67) en Johannes die Doper (Lukas 1:80). Ook lei die Gees gelowiges (Lukas 2:27). Hy bring ‘n liefdesband van eenheid tussen almal tot stand wat deel is van die kerk van die Here (Efesiërs 4:3). Op Pinksterdag (Handelinge 2) word die Gees oor alle volgelinge van Christus uitgegiet. G’n wonder nie dat Paulus kan skryf dat iemand wat nie die Gees van Christus het nie, is ook nie een van sy mense nie (Romeine 8:9).

Die Heilige Gees kan natuurlik bedroef gemaak word deur mense wat ongehoorsaam aan sy leiding is (Efesiërs 4:30). Net so kan die Gees se werk ook deur ons teengestaan word (1 Tessalonisense 5:19). Anders egter as in die Ou Testament, waar die Gees mense soos Saul verlaat het, gebeur dit nooit in die Nuwe Testament nie. Om Hom dus te bedroef of teen te staan, beteken nie dat Hy die huis permanent verlaat nie. Nee, die Gees het sedert Pinksterdag gekom om te bly! Deur dik en dun sal Hy by sy kerk wees. Ook sal Hy jou nooit begewe of verlaat nie. Hieraan kan jy met jou lewe vashou!

Gebed

Dankie Gees van Christus dat U elke dag by my is.


bottom of page