Jesus verander alles... of doen Hy?
top of page

Jesus verander alles... of doen Hy?


Ek kan eerlik sê: ek is ‘n nuwe mens. Ek probeer ten minste leef soos een. My lewe het egter nie verander toe ek Jesus ontmoet het nie. Skokkend, ek weet! Almal praat dan gedurig oor hoe álles verander het die dag toe hulle Jesus in hulle lewe ingelaat het. Ek ken Jesus egter al vir baie jare. Ek weet al lank wie Hy is en ek glo al lank in Hom. My geloof het egter nie baie dinge verander binne-in my nie. Selfs toe ek Hom later beter leer verstaan het deur deegliker Bybelstudie, het bitter min dinge in my lewe werklik verander. Ek was steeds net so selfsugtig, net so negatief, net so egosentries, net so verhoudings-lomp, net so onbeskof en rassisties as tevore.

‘n Mens sien hierdie tendens in die Bybel ook. Daar was baie mense wat geweet het wie Jesus was sonder dat hulle lewens noodwendig deur Hom verander is. Mense sou kon sê:

O, Jesus! Ja, Hy woon in my straat! Daai rabbi met die ‘weird’ dissipels! Goeie ou!

Dink maar aan mense soos Nikodemus, Pilatus of die ryk jongman. Alhoewel ons nie heeltemal seker is oor Nikodemus nie het sommige mense Jesus hoog geag sonder dat hulle lewens deur Hom verander is. Baie gelowige mense sien Hom vandag ook so: die goeie Jesus met suiwer bedoelings. Die Jesus in wie se naam ons bid, die Seun van God! Ons kerke sit vol mense wat al die regte goed glo aangaande Jesus. Tog verander daar nie veel nie en hulle lewens raak nie koninkryksproduktief nie. Ons land is sogenaamd “Christelik”. Baie sê hulle glo in Jesus en tog leef baie mense steeds in armoede, steeds heers daar korrupsie, steeds vier immoraliteit hoogty en ongeloof neem toe.

Glo is egter goed. Jesus het dan gesê: Glo in God. Glo ook in My (Joh 14:1).

Jesus het egter baie méér as dit gesê. Hy het ook gesê: Volg My! (Matt 9:9) Dis die verskil. Iemand kan vir jare in sy/haar eie huis of in die kerkstoele sit en glo dat Jesus die messias is. Iemand wat Jesus egter volg, skuif hulle lywe. Hulle word deur Jesus gelei buite die veiligheid van hulle eie wêrelde na hulle nie-gelowige buurman, na arm-moediges, na sukkelendes, na informele nedersettings waar hulle nog nooit tevore was nie, na ‘n nuwe manier van dink en leef. Ja, wanneer jy jou lyf skuif dan skuif jou denke ook. Jy kan nie meer negatief en bitter bly nie. Jy kan nie meer alewig vrees nie. Jy kan nie meer haat en laer trek nie want jy volg Jesus na beter hemelse bestemmings. Om te glo is dus goed en reg. Om egter te volg verander alles! Om te glo kan ‘n blote intellektuele oefening wees. Om te volg is ‘n lyfskuif-aksie!

Ek ken ‘n vrou wat Jesus enduit volg. Sy kom uit ‘n gewone Afrikaanse middelklas omgewing. Sy is bogemiddeld intelligent en het geswot by ‘n goeie universiteit. Sy is in haar middel dertigs en tien jaar gelede toe volg sy Jesus na Cosmo-City toe waar sy vandag nog siel-alleen woon tussen ‘n diverse groep mede-Suid-Afrikaners! Sy woon tussen Zoeloes, Xhosas, Tswanas en nog meer! Hulle is haar bure en vriende. Cosmo-City is ‘n informele nedersetting met baie armoede en het hope van sy eie uitdagings wat ons min van sal verstaan. Terwyl sommige van haar rassistiese en ryk vriende gereeld kla oor die gevare in land, Eskom se probleme en die misdaad, sit hierdie vrou daagliks tussen haar vreemde groepie vriende in Cosmo-City en leef haar lewe vreugdevol agter Jesus aan. Wat sy doen is dalk nie vir almal nie. Maar sy doen dit nie omdat sy bloot ‘n korrekte verstaan van Jesus het nie, maar omdat sy Hom liefhet en Hom volg.

Nee, my lewe het nie summier verander toe ek in Jesus leer glo het nie. Dit het begin verander toe ek Hom leer vólg het, uit my kerkstoel uit, na my mede-mens toe!


bottom of page