Die Here se tyd is opspoor-tyd, feesvier-tyd
top of page

Die Here se tyd is opspoor-tyd, feesvier-tyd


Twee musikale genieë, Fritz Kreisler en Sergei Rachmaninoff, moes op ’n keer saam in die beroemde Carnegie Hall in New York optree. Halfpad deur Beethoven se ‘Kreutzer’ Sonata het Kreisler sy plek op die bladmusiek verloor. Toe fluister hy benoud: “Where are we?” Dadelik het Rachmaninoff geantwoord: “In Carnegie Hall.” Nou ja of jy nou ‘n grootmeester is, of te nie, almal van ons verloor een of ander tyd ons plek.

Soms is ons plek-verloor en ons verdwaaldheid so ernstig dat niemand anders ons kan help nie, net God! Gelukkig ken Hy altyd ons koördinate. Hy weet presies waar ons is wanneer ons die slag “properly” die spoor byster geraak het. Nooit is ons van sy bladsy af nie. Op geen tydstip is ons buite sy opvangsgebied nie. Op enige plek kan die Here ons opspoor. Orals en altyd weet God waar ons is. Nooit loop ons so ver die donkerte in dat die goeie Herder se hemelse soeklig nie ons spore kan vind nie.

Die Here kan dit nie vat dat ons wegraak of verdwaal nie. Daarom dat Jesus bereid is om elke keer na ons te soek totdat Hy ons kry. Hy ken altyd ons jongste ruitverwysings. Hy het ’n “dropped pin” op ons elkeen se lewe. As ons wegloop en Hy ons raakloop, tel Hy ons dadelik op sy skouers en dra ons terug na waar ons hoort. Dan vat Hy ons reguit na sy Vader se feessaal toe. Dan is dit feestyd. Nee, nie regsien tyd nie. Of vasvat tyd nie. Feestyd saam met die Here wag op elke verdwaalde wat opgespoor is deur die Heer. Blydskap wen wanneer jy weer tuiskom aan sy voete. Onthou jy?


bottom of page