Kwaadword
top of page

Kwaadword


Die Chambers Woordeboek definieer woede as “hostility, often involving a desire for retaliation, resentment, rage.”

Om kwaad te word is ‘n normale emosionele reaksie wanneer ons seergemaak word. Ons almal word kwaad en sukkel op een of ander manier daarmee – of ons nou afblaas soos ‘n stoompot of stilstuipe kry. Jonatan se reaksie op Saul se optrede teenoor Dawid is een van ‘n aantal Bybelse voorbeelde van regverdigbare woede (1 Samuel 20:34) aangesien Saul Dawid so sleg behandel het. Aan die ander kant (1 Samuel 18:8) was Saul se onverskoonbare woede teenoor Dawid uit jaloesie.

Woede is nie altyd sonde nie. Daar is ‘n tipe woede wat die Bybel goedkeur: “geregverdigde woede”. God het regverdige woede teenoor sonde, rebellie en kleinlikheid. Ons sien dit in Jesus se reaksie op die Fariseërs se harde harte (Markus 3:5) en sy woede oor die Jode wat verkope doen in die tempel (Johannes 2:13-18).

In nie een van hierdie voorbeelde van woede gaan dit oor selfverdediging nie, maar oor die verdediging van ander of van ‘n Bybelse beginsel. God se woede verskil van menslike woede, net soos God self verskil van mense. In die Ou Testament openbaar God homself as "lankmoedig".

Terwyl ons kan onderskei tussen gevalle van regverdigbare en onregverdigbare woede, is die Bybel duidelik oor wat ons doen wanneer ons kwaad word. Morele optrede, nie emosie nie, is die Bybel se primêre fokus. Twee woedende broers het ‘n klein dorpie om die bos gelei en uitgewis toe een van die mans daar hul suster verkrag het [Genesis 34]. Hul woede was geregverdig, maar hul optrede was sondig.

Spreuke 29:22 waarsku: iemand wat kort van draad is "begaan baie sondes" en Psalm 37:8 dat woede "net tot ellende lei". Dit is onwaarskynlik dat 'n persoon wie se optrede gemotiveer word deur woede, 'n goddelike pad sal kies [Jakobus 1:19, 20).

Christelike beraders vind dat 50 persent van die mense wat kom vir berading, sukkel met die hantering van woede. Woede verbreek kommunikasie en skeur verhoudings uitmekaar, en ruïneer beide die vreugde en gesondheid van dié wat daarmee sukkel. Ongelukkig is ons geneig om ons woede te regverdig in plaas daarvan om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar – “die ander persoon het my kwaad gemaak!”

Ons sien dus dat die Bybel nie woede veroordeel nie, maar wat ons doen daarmee nadat ons kwaad geword het. Ons het, soos met alle reaksies, ‘n keuse hoe ons ons emosies hanteer.

“You control how you think and react. You can’t control whether anyone pushes your button, but you can control how you think and react to its getting pushed.”(Dr Gary Smalley in The DNA of Relationships).


bottom of page