Doodloopstraat, Lewenspad
top of page

Doodloopstraat, Lewenspad


Jerusalem was veronderstel om die aardse hoofkwartier van Israel se godsdiens te wees. Daar moes God se goedheid die duidelikste sigbaar gewees het. Toe nie! Vra vir Jesus. Vandat Hy op die Sondag net voor Paasfees daar aangeland het, het Hy Homself vasgeloop in dodelike vyandigheid van die kant van die leiers. Konflik op konflik het gevolg. Dit het tot ’n doodsvonnis teen Hom gelei. Dit was nie die bendes en rowers van Jerusalem wat Jesus wou stilkry nie; dit was die godsdienstige elite van die stad. Toe kry hulle dit reg. Toe kruisig hulle Hom. Maar toe verander sy kruis in die plek van hoop. Terwyl Jesus daar hang, is die bordjies verhang. Daar het Hy plekke met ons almal geruil. Daar het die dood regtig doodgegaan. Daar het lewe in oorvloed gewen. Die kruis vertel ’n nuwe storie van lewe wat steeds triomfeer vir elkeen wat daar kom skuiling soek.

Die leë graf vertel ook dat die doderyk nie sy grootste gevangene kon opgesluit hou nie. Die doderyk het sleg verloor. Dit is die volle storie van Paasfees. Jesus is anderkant die dood uit. Hy het dwarsdeur die laaste vyand se hekke gestap. Die dood het nie die laaste sê nie. Die geveg is gewen. Jesus is nou ’n reis vooruit. Hy leef, en ons leef saam met Hom.


bottom of page