Vroue van die Woord [resensie]
top of page

Vroue van die Woord [resensie]


ʼn Dagboek vir vroue, geskryf deur vroue vanuit hulle ervarings in die lewe. En daarom relevant vir elke vrou. Iewers gaan jy jouself raaklees in ander vroue se ervarings. Terwyl daar elke dag ʼn Bybelgetroue oordenking is wat jou lewe gaan verryk. Dit is wat in dié interessante Bybeldagboek gebeur wat deur Jannie Pelser saamgestel is. Jannie is natuurlik bekend as gewilde gospelsanger asook dominee wat baie jare in Rant-en-Dal in Krugersdorp ʼn makrogemeente suksesvol bedien het.

Onder die name van vroue wat dagstukkies voorberei het, kom bekende name voor soos Esté Geldenhuys en Elza Meyer asook ander minder bekende name. Tog het elke dagstukkie ʼn besondere impak. In wat 5 of 10 minute se lees is, gaan jy genoeg pitkos kry om jou deur die dag te neem. En omdat verskeie skrywers deelneem, is daar nie herhaling van temas wat afgesaag raak, soos soms gebeur wanneer slegs een persoon ʼn hele jaar se dagstukkies skryf nie.

Wat opval, is dat die boek in hardeband uitgegee is wat die waarde verhoog omdat die boek vir ten minste ʼn jaar lank elke dag gebruik gaan word, dat die prys vir die harde band tog bekostigbaar is en dat die boek pragtig versorg is. Wat dit ideaal maak om as ʼn geskenk te dien.

Vir elke dag is daar ʼn kort teksvers, oordenking en passende gebed. Talle temas word gedenk: Hoe ontvang ek die Heilige Gees? “Wie is ek” gevind in “Wie is Ek”. Jesus sal jou in ʼn toe kamer kom verras. Objektief of obsessief. Hoe lyk jou geestelike getuigskrif? Die hardnekkige weduwee. Maskers. En vele meer.

ʼn Mooi en nuttige boek wat enige vrou se lewe gaan verryk.


bottom of page