Leermeester
top of page

Leermeester


Watter aangrypende woorde loop ek nie in Nehemia 9:20 aangaande die Heilige Gees raak nie. Daar skryf Nehemia dat God sy goeie Gees aan sy mense gegee het om hulle te leer. Aangrypende woorde! Die Gees is die Goddelike onderwyser en leermeester hier op aarde. Dis sy werk om mense bewus te maak van God se wil en om hulle boonop ook nog op hierdie pad te lei.

Jy en ek wat in Christus glo het die Heilige Gees as spesiale onderwyser by ons. Die Gees is voltyds aan diens. Vier en twintig uur per dag, sewe dae per week en driehonderd vyf en sestig dae per jaar rapporteer Hy vir diens. Hy sorg dag en nag dat ons in die waarheid gelei word. Nee, ook nie sommer net enige soort waarheid nie- Syne! Die Heilige Gees ken God se hart en Hy sorg dat God se hart ook in ons oorgeplant word en elke dag daar bly klop.

Wanneer die Gees ons onderrig, dan gee Hy ons nie net ‘n klomp kopkennis nie. Inteendeel. Hy is ‘n leraar van die hart ook! Hy verander ons harte deur dit sag, broos en liefdevol te maak om in pas met God se wil te klop. Terloops, hoe leerbaar is jy tans? Hoe oop is jy elke dag vir die Gees se onderwysings?


bottom of page