Watter leiers kan ons vertrou?
top of page

Watter leiers kan ons vertrou?


Kom ons wees nou maar eerlik. Ons het goeie leiers nodig. Die Here het dit so bedoel dat Hy sy bevryding en groei heel dikwels bewerk deur die oprig van ‘n leier of groep leiers. Goeie resultate moet somtyds wag vir die regte leier om op te daag voordat dinge werklik ten goede verander. Dis waar in alle areas, vanaf ons plaaslike gemeentes, besighede, gesinne en ook in die politiek.

Die probleem is net egter dat soveel leiers ons al teleurgestel het. Hoe weet ons na wie om te luister? Wie se stem verteenwoordig die diepste waarheid en kan hulle ons na ‘n beter wêreld lei? Die onmiddellike cliché-agtige antwoord wat baie gelowige mense natuurlik onmiddellik gee is dat ons Jesus alleen moet vertrou en na Hom alleen moet luister. Maar ons weet dat dinge meer kompleks is as dit want Jesus gebruik dan juis ander mense, gesagsfigure, en leiers in ons lewens. Ons hoor mos juis sy stem en beleef sy leiding deur ander mense, deur Geesgevormde gemeenskap en vriendskap! Daarom dat Paulus self sê:

Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Christus volg (1 Kor 11:1).

Paulus is nie arrogant wanneer hy hierdie woorde uiter nie. Hy weet hoe die Here werk. In ons Godsreis agter Jesus aan identifiseer ons met mense wat vir ons soos Jesus lyk en omdat hulle vir ons soos Jesus lyk volg ons hulle agter Hom aan.

Die vraag kom dus weer op. Hoe kies ons die mense uit na wie ons luister? Hoe weet ons vir wie om te stem?

Een van die mees deurslaggewende faktore behoort nederige en selflose diens te wees. Dit gaan veral daaroor hoe ‘n gegewe leier reageer op mag en outoriteit. Die beste leiers is mense wat gewoonlik nie die mag of ereposisie wil hê nie. Die beste base en bestuurders is mense wat juis nie wil baas speel nie. Die beste CEO’s is mense wat nie doelbewus baklei het om daardie posisie te beklee nie, maar gedurig ander voor hou, bemagtig en dien. Die beste geestelike leiers is mense wat hulle eie posisie nie te ernstig opneem nie, maar hulle verantwoordelikheid wel. Die beste leiers is mense wat geensins geïnteresseerd is in titels of status of ereplekke in die gemeenskap nie. So ‘n leier kan jy in alle waarskynlikheid vertrou.

Moses was die regte leier want hy wou die rol van leier nie hê nie (Eks 3:11, 13, 4:1, 10). Jeremia was die regte leier want hy het beweer dat hy te jonk is en dat iemand anders die werk beter sal kan doen. Johannes en Jakobus was aanvanklik nie die regte leiers nie omdat hulle die glansryke posisies aan Jesus se linker- en regterhand wou hê! En Jesus sê toe vir hulle nee, hulle moet eers leer om die magspeletjies van die wêreld op te gee (Matt 20:20-28).

Dis waarom ek Jesus vertrou: Want Hy het al sy mag neergelê en sy lewe gegee vir sondaars. Dis die mees oortuigende manier waarop ‘n leier mense van sy agenda-lose liefde kan oortuig: deur sy/haar lewe te gee op so ‘n opofferende manier dat so ‘n persoon se agenda nie betwyfel kan word nie.

Soek dus Jesus se ewebeeld in geestelike leiers. Moenie bloot soek na begaafdheid nie. Soek na tekens van selflose karakter.

Soek na die kruis!


bottom of page