Vanaf "death by meeting" tot "lewe by die kruis"
top of page

Vanaf "death by meeting" tot "lewe by die kruis"


Vergaderings kan vervelig raak. Ellelange agendas, eindelose punte van bespreking, en ’n handjievol mense wat nie weet wanneer om op te hou praat nie, is dodelik vir enigeen se gemoed. ’n Boek van Patrick Lencioni kom altyd by my op as ek aan sulke langdradige vergaderings dink. Dit het die treffende titel: “Death by meeting.” Wel, daardie Donderdagaand se vergadering van die Joodse Raad toe Jesus voor hulle in Jerusalem verskyn het, was verseker ‘n “death by meeting” byeenkoms. Maar dit was alles en behalwe vervelig. Raadslede het nie daardie aand van verveeldheid aan die slaap geraak nie; hulle het Jesus se doodsvonnis verseël. Toe Jesus daar volgens Markus 14 aan die hoëpriester bevestig dat Hy die Seun van God is, het die doodsklokke kliphard gelui. Jesus moes van die toneel af verwyder word.

Is dit moontlik dat mense die Kind van God kan doodmaak? ’n Skokkende vraag, om die minste te sê. Tog is dit presies die realiteit waarmee die kruis van Golgota ons konfronteer. Dit wat hier by die vergadering van die godsdienstiges en kort hierna ook by die kruis gebeur het, is in een woord skrikwekkend. Geen twyfel hieroor nie. Jesus se wrede kruisdood is stapsgewys georkestreer deur die maghebbers van die dag. Sy stem moes met geweld stilgemaak word. Presies dit het hulle ook reggekry, - totdat Jesus die dood 'n paar dae later uitoorlê het. Hy, die Woord van God, wat van die begin af daar is; Hy wat die ewebeeld van God is, juis Hy sterf daar aan Golgota se kruis. Maar Jesus doen iets vreemd daar in sy sterwensoomblikke: Hy verplaas Homself daar volledig in ons elkeen se skoene. Jesus kies by Golgota om ons almal se lot Syne te maak. God se Seun vervang sy eie identiteit aan die kruis met ons s’n as sondaars sodat daar weer vrede kan kom, vrede tussen ons en die hemel. Sy dood vertel van nuwe lewe vir ons elkeen wat hierdie evangelie glo. Sy dood is gelyk aan ons lewe. Sy “death by meeting” byeenkoms mond uit in ‘n “Lewe deur die Kruis” afspraak.


bottom of page