Die Gees, ‘n Persoon in eie reg
top of page

Die Gees, ‘n Persoon in eie reg


Die Heilige Gees is volledig deel van die hemelse Bestuurspan wat aan hoof van die heelal staan. Dit het ons gister reeds gesien. Nou ja, aanvanklik val die klem in die Ou Testament nie heeltemal so sterk op die Heilige Gees se werk nie. Ons hoor net hier en daar van die Gees van God. Maar later, soos wat God algaande meer van Homself met ons deel, word dit duideliker dat die Gees ’n Persoon in eie reg is.

Ek lees in Jesaja 63:10 dat ons as mense die Heilige Gees kan bedroef. Nou ja, net persone met ‘n wil en persoonlikheid van hulle eie kan ooit bedroef gemaak word. Daarom dat die Gees van die Here nie maar net ‘n onpersoonlike krag is nie. Hy is nie slegs die verlengstuk van God nie. Nee, die Gees is ‘n eie Persoon maar een in wese met die Vader en die Seun.

Jy en ek moet sorg dat Jesaja 63:10 nooit van onsself waar word nie. Om die Gees te bedroef, gebeur wanneer mense in opstand teen God kom en stokdoof raak vir sy leiding. Dit maak die Gees se hart baie seer. Dan wil Hy nie eintlik langer by sulke mense bly as die Eregas in hulle lewe nie. Sorg derhalwe dat jy sy leiding vandag navolg.


bottom of page