Neem beheer van jou lewe [resensie]
top of page

Neem beheer van jou lewe [resensie]


Jy kan jou lewe inrig in reaksie op wat met jou gebeur het, jou teleurstellings en mislukkings, pyn en trauma, opvoeding en omstandighede. Dit kan veroorsaak dat jou lewe deur skaamte en selfhaat oorweldig word. Of jy kan responsief leef, waar jy doelbewus en doelgerig besluit wat jy met jou lewe doen, ongeag en ten spyte van wat in jou verlede gebeur het.

Dis waaroor dié boek handel, geskryf deur ʼn opvoedkundige en kliniese sielkundige. Albei is bekende en bekroonde skrywers en gewilde sprekers in die VSA en betrokke by verryking van gesinne en huwelike.

Hoe kan jy slegte gewoontes oorkom wat ʼn lang pad in jou lewe kom en jou terughou sodat jy nie kan opleef aan die verwagtinge wat jy van jouself het nie? Hoe kan jy beter grense in jou lewe stel sodat ander nie oor jou loop en jou misbruik nie en sodat omstandighede jou nie kort-kort op moedverloor se vlakte laat nie? Hoe word ʼn mens gesond as jou seerkry in die verlede so groot is dat jy nie energie vir enigiets anders oor het nie?

Feit is: jou verlede hoef nie jou toekoms te bepaal nie. Jy mag nou leef as ʼn mens wat vry geword het van die seer en swaar van die verlede, en besluite neem wat jou en jou omgewing die beste dien. Jy hoef nie meer te oorreageer nie. Hierdie boek leer jou hoe om vry te kom en weg te beweeg van ʼn reaktiewe ingesteldheid sodat jy gesonde response kan ontwikkel wat God die eer in jou lewe gee.

Die skrywers het baie ervaring in berading en gebruik talle voorbeelde wat as modelle dien van die beginsels wat hulle beskryf, wat die praktiese waarde van die boek verhoog. Jy leer as’t ware uit ander se foute sodat jy dit nie (verder) hoef te herhaal nie.

Die boek is geskryf sodat enigiemand dit kan verstaan en die vertaling is ook goed gedoen. En die uitgewer se versorging daarvan is ook (weer eens) van hoogstaande gehalte.

ʼn Selfhelp-boek vir mense wat ontevrede geraak het met hulle gebrek aan prestasie en wil begin opleef aan hulle potensiaal!


bottom of page