Wingerd
top of page

Wingerd


Ek het ʼn foto van ons labrador-teef wat in ʼn boks, onder ʼn kombers, op die kombuisvloer lê en slaap. Dit was haar eerste nag as babahondjie in ons huis. Saam met haar op die vloer lê my 4-jarige seuntjie óók onder ʼn kombers, pofferhandjie in die boks sodat sy hom kan voel. Hy was vasbeslote dat sy nie alleen in die nag mag voel nie, want sy was vir die eerste keer weg van haar honde-familie.

Vandag is Sasha blind. Van haar oorloop-energie is nie veel oor nie. Ons skuif nie sommer meubels rond nie en torring nie aan die tuin-uitleg nie. Maar sy kom nog vrolik nader wanneer dit etenstyd of maagkielie-tyd is. Haar lyf draai dwars soos wat sy nader aan jou kom, sodat haar snoet nie per ongeluk aan jou stamp nie - eerder haar borskas. My seun slaap jare lank nie meer op die kombuisvloer nie.

Die wingerde in my omgewing het feitlik oornag in ʼn kleurpartytjie verander. Heldergroen het in ʼn paar dae se tyd verander. Roesbruin, oranje, purperrooi, geel en ligbruin maak vlekke teen die heuwels langs Bottelaryweg. Hulle kondig aan, nes Sasha se silwer oë, dat ʼn seisoen verby is.

Ek dink ons is bevoorreg om lydenstyd en Paasnaweek in die Suidelike Halfrond tydens herfs te kan vier. Bome en wingerde word kaal gestroop tot niks oorbly nie. Parstyd is reeds verby en die wynmaakproses is iewers in stilte aan die gang. Dit lyk asof daar van hier af niks gebeur nie, behalwe dat blare doodgaan en slegs oënskynlike dooie stompe oorbly.

Twee dinge gebeur dan met my:

(1) Ek besef hoe mooi die afgelope seisoen was. Die stropingsproses gee dankbaarheid vir die mooi wat was. Alhoewel dit pynlik is om te lees van Jesus se eie lydensweg, is dit bitter mooi. Want ook Hy het weggegee van Homself. Stukkie vir stukkie, totdat niks oorgebly het nie. Net die leë kruis.

(2) Ek dink aan Jesaja 11:1-3. “'n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here.”

Veral hierdie tweede een vul my met verwondering. Op stil Saterdag, die dag tussen Goeie Vrydag en Paassondag, het dit gelyk asof niks gebeur nie. Maar eintlik was groot dinge reeds aan die gang. Die nuwe wyn was besig om te arriveer. Wag jy net…


bottom of page