Die regte “leftovers” is meer as genoeg
top of page

Die regte “leftovers” is meer as genoeg


“Leftovers” is ‘n bekende woord. Dit verwys na daardie kos wat oorgebly het na ‘n groot ete. Wel, Jesus los graag “oorskiet” oor. Elke keer as Hy brood vermeerder het vir die skares, het daar baie mandjies vol kos oorgebly. So lees ons in Markus 6 en 8. Jesus gee nie net genoeg nie, Hy gee altyd meer as genoeg. Hy gee te veel. Hier aan ons kant van die draad is daar altyd te min van alles -te min lewe, te min veiligheid, werk, geld, geloof, hoop... Maar by Jesus is daar te veel. Elke keer as Hy opdaag, bring Hy te veel saam. Jesus gee vir hongeriges meer as genoeg brood. Daar is oorskiet vir ‘n volgende maaltyd ook. Hy gee vir genadebedelaars meer as net een maal se vergifnis. Daar is sommer ‘n hele nuwe lewe se oorskiet. Jesus gee vir soekendes meer as net een dag se lewe. Hy gee ‘n ganse ewigheid se oorskiet. Ons moet in Jesus se voetspore volg. Een arme moet vandag meer as net ‘n stukkie brood by ons kry. Een noodlydende se las moet vandag van haar skouers gelig word. Iemand moet vandag nog hoor God het hulle nie vergeet of afgeskryf nie. Ons moet die oorvloed waarmee God ons geseën het verder aangee. Ons het meer brood op ons tafel as wat ons vandag kan opeet. Ons het meer hoop en geloof as wat ons alleen kan opgebruik. Ons is regtig nie so arm of so nutteloos soos wat ons dink nie, nie as die God van oorvloed ons Here is nie. Dan het ons altyd iets om te deel, vandag ook.


bottom of page