'n Hart vol hoop [resensie]
top of page

ʼn Hart vol hoop [resensie]


Tessa Afshar. ʼn Hart vol hoop. ʼn Roman. CUM. 2018

Tessa Afshar, ʼn Amerikaanse vrou, is voltyds in die bediening en was ook betrokke by teologiese opleiding aan die Yale Divinity School. As skrywer het sy in aanmerking vir verskeie pryse gekom. Haar boeke speel af teen die agtergrond van geloof, wat dit vir Christene kosbaar maak.

In dié boek wat afspeel in die eerste eeu nC. gaan dit om ʼn vrou wat in ʼn wêreld oorheers deur mans opstaan en beheer neem om suksesvol te wees. Haar verhaal is een van moed, deursettingsvermoë en vriendskap. En haar prestasie verander terselfdertyd die wêreld.

Lidia was ʼn purperverkoopster van beroep. Voor sy in die handelswêreld ingegaan het, het sy vir haar pa geleef wat ʼn handelaar was, die grond waarop hulle gebly het en die pers kleurstof wat purper genoem is en in Bybelse tye kosbaar was omdat dit so skaars was. Maar dan beroof verraad haar van alles waarop haar lewe gebou was.

Al wat sy in die hand het, is die geheime formule waarmee haar pa purper gemaak het. Daarmee vlug sy na Filippi en begin ʼn besigheid met niks. Met blote vasberadenheid slaag sy daarin om die besigheid nie net te laat slaag nie maar om een van die stad se mees toonaangewende en bekende handelaars te word.

Lidia se lewe en besigheid word voortdurend bedreig omdat sy soveel vyande het. Haar verlede spook by haar. Dan ontmoet sy Paulus, ʼn apostel wat rondgaan en vir mense van die goeie nuus vertel dat Jesus Christus vir hulle sondes gesterf het. Lidia word die eerste Christen in Europa as sy haar lewe aan Jesus oorgee. En dit bring haar voor die uitdaging om haar verlede en vrese ook aan Hom te gee. Sy verruil haar vrees vir vrede wat Christus alleen kan bring.

Hier het jy ʼn onderhoudende verhaal wat die boek moeilik maak om neer te sit, meesterlik vertel en baie goed vertaal. As jy van romans hou wat jou geloof versterk, hoort dié boek baie na aan bo-aan jou lysie te kom.


bottom of page